Die polisie is tans besig met ’n geregtelike doodsondersoek en ondersoek ook ’n moordsaak nadat die lyke van ’n jong man en sy vriendin Maandagoggend naby mekaar in bosse op die plaas Akasia langs die Wolseleypad aangetref is.
Die oorledenes is Charl Bothman (23) en Candice Steenkamp (20) van die plaas Akasia.
AO Vathiswa Jacobs, ’n polisiewoordvoerder, sê Bothman se ma het Steenkamp Saterdagnag hoor huil. Sy (Steenkamp) het in daardie stadium by Bothman by sy ouerhuis gekuier.
Volgens Jacobs het Bothman en Steenkamp kort hierna die huis verlaat.
Sondagoggend omstreeks 06:00 het Bothman alleen teruggekeer huis toe. Hy het sy ma meegedeel dat hy Steenkamp huis toe geneem het.
Bothman het intussen onder meer sy selfoon vir ’n neef van hom gegee waarna hy weer die huis verlaat het.
Jacobs sê toe Bothman se ma sy bed opgemaak het, het sy op ’n nota onder sy matras afgekom.
Sy ma het hom dieselfde dag as vermis by die polisie aangemeld, waarna die polisie en lede van die gemeenskap na hom begin soek het.
Volgens Jacobs is die soektog tydelik afgelas toe dit donker geword het.
Die soektog is die volgende dag hervat.
Die polisie het toe op Bothman en Steenkamp se lyke in bosse naby Bothman se ouerhuis afgekom.
Steenkamp het wonde aan haar gesig en die agterkant van haar kop gehad. Bothman het aan ’n rooi tou wat aan ’n boom vasgemaak was, gehang.



