’n Dominee van Rawsonville het gewys sy lang asem kan help vir ’n goeie saak.
Ds. W.P. du Plessis van die NG Goudini-gemeente het in Desember vir vyf dae elke dag ’n halfmarathon gehardloop om geld vir Badisa in Rawsonville in te samel.
Du Plessis vertel hy was ’n bietjie seer ná die week waarin hy elke dag byna 21 km afgelê het.
Die dominee, wat ook die ondervoorsitter van die beheerraad van Badisa is, het altesaam R20 075 ingesamel. Tania Lochner, wat ook by Badisa werk, sê hulle is ewig dankbaar vir sy wonderlike inisiatief.
“Dit het baie uithouvermoë van hom geverg,” voeg sy by.
Volgens Du Plessis besef mense nie altyd die goeie werk wat Badisa doen en die ure wat hulle insit nie, totdat jy betrokke raak en sien hoeveel mense hulle help. Hy raai mense aan om betrokke te raak by organisasies sonder winsoogmerk om hand by te sit – hoe en waar hulle ook al kan.
Du Plessis beplan om jaarliks geld vir Badisa in te samel deur middel van gesellighede en ander geleenthede. . Indien mense meer wil weet of betrokke wil raak, kan e-pos stuur na gowbadisabreede@gmail.com of Badisa by 023 349 1219 skakel.





