Talle ou skooldokumente is gevind tydens opknappingswerk by die Hoërskool Goudini in Rawsonville.Foto:


’n Blik uit die verlede is onder ’n houtvloer by die Hoërskool Goudini in Rawson­ville ontdek.

Dit is in die vorm van Engels-antwoordstelle van 1973 wat onder die houtvloer van die gr. 6-klas ontdek is asook ’n boks met ou papiere in ’n ander klaska­mer.

Die skool, wat vanjaar sy 165ste bestaansjaar vier en een van die oudstes in die Wes-Kaap is, ondergaan tans opknappings­werk.

Die skoolhoof, Jaco Strydom, het gesê die vonds is gemaak toe vloerplanke gelig is om met nuwe vloere te vervang.

Die antwoordstelle is in die oud-onderwyser Hennie Joubert (74) se klas gekry. Hy was ’n Engels-onderwyser wat die skool nog gereeld besoek.

“Ek het hom gebel toe ek die antwoordstelle kry, maar ’n mens sal mos nie vraestelle van 50 jaar gelede onthou nie.”

Strydom vermoed ’n muis of ’n rot het die antwoordstelle onder die vloer ingetrek, want die kante is gevreet.

Hy het ook op ’n ou koevertjie afgekom wat aan M.E. Calcagni (Riekie) geadresseer is. Joubert en Riekie het in 1975 by Goudini ontmoet en is in 1977 getroud.

Joubert het Vrydag in ’n stemboodskap vertel hy dink van die leerlinge het dalk papiere tussen die gleuwe van die planke ingedruk.

Vandeesweek is ’n boks met ou gr. 2-oefeninge en ander interessanthede ook onder die vloer van ’n grondslagfase-klaskamer ontdek.

“Dis asof die vloere destyds opgeknap is en mense dit ingesit het sodat ons dit eendag ontdek.”

Strydom sê die oefeninge is alles met die hand uitgeskryf.

“Die juffroue moes daai tyd alles uitskryf, hulle kon mos nie fotokopieë maak nie.”

Volgens hom sal die antwoordstelle en die res van die vonds in die skoolkluis bewaar word.

Een van die antwoordstelle is dié van die wynmaker TC Botha van TCB Wines in Rawsonville.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article