Akademia bied vanjaar vir die eerste keer ’n honneurskwalifikasie aan. Foto:


Akademia het op Woensdag 4 Januarie die nuus bekend gemaak dat die instelling se heel eerste honneurskwali­fikasie vanjaar van stapel gestuur gaan word.

Die BComHons (ondernemingsbestuur)-kwalifikasie sal van 1 Maart in Afrikaans via die na-uurse afstandsmodel by die instelling aangebied word, wat beteken dat studente steeds bedags sal kan werk of ander belangstellings kan najaag.

Die instelling bied reeds van 2014 die BCom (ondernemingsbestuur)-kwalifikasie suksesvol via die na-uurse afstandsmodel aan, asook van 2022 deur die voltydse kampusmodel.

Volgens Elize-Mari Coetzer, departementshoof van bestuurswetenskappe by Akademia, was die volgende natuurlike stap om ’n honneurskwalifikasie van uitstekende gehalte uit te rol om studente verder toe te rus vir hul loopbane.

Volgens Coetzer het die BComHons-kwalifikasie ten doel om studente se voorgraadse ondernemingsbestuurkennis en -vaardighede te verdiep deur hulle toe te rus met die jongste kennis en vaardighede in dieselfde veld. “Ons wil ons studente ook voorberei om navorsing binne die ondernemingsbestuurveld te doen en ’n navorsingsverslag te kan skryf en voor te lê.”

Die BComHons-kwalifikasie val op NKR-vlak 8 en stel die student bloot aan kernbestuurstake sowel as ondersteunende bestuursfunksies. Dit sluit beplanning, organisering, leiding en beheer van strategieë, verandering, geïntegreerde voorsieningskettings en finansies in.

Die tipiese beroepe wat gevolg kan word ná die voltooiing van die kwalifikasie sluit in algemene bestuurder, besigheidsanalis, besigheidsadviseur, operasionele bestuurder, aankoper, voorsieningskettingbestuurder, spanleier of besigheidskonsultant. Hierdie kwalifikasie sal ook aan studente toegang kan bied tot verdere nagraadse programme soos ’n meestersgraad.

Volgens Coetzer sal die kwalifikasie studente in die werksplek laat uitstaan omrede studente navorsingsvermoëns, kritiese denke en probleem­oplossingvaardighede sal hê wat aan die bedryf se behoeftes voldoen. “By Akademia word ons studente se denke en hart gevorm sodat hulle waarlik ’n verskil in hul gemeenskappe sal kan maak.”

Om in aanmerking te kom vir toelating tot Akademia se BComHons (ondernemingsbestuur)-program word ’n toepaslike baccalaureusgraad of toepaslike gevorderde diploma (NKR-vlak 7) vereis. Die aansoeker moet ook ’n minimum van 65% in ’n NKR-vlak 5-, 6- en 7-ondernemingsbestuur-module behaal het, asook ’n gemiddelde van 60% vir alle derdejaarsmodules.

Volgens Coetzer is die dosente wat die modules aanbied en as studieleiers dien se harte en besonderse geïnformeerde denke deel van die DNS wat elke module vorm. “Hulle is werklik passievol en daarop uit om die student te ontwikkel as individu, en toe te sien dat hulle die dele in die geheel raaksien en onafhanklik kan dink.”

Coetzer se raad aan voornemende studente wat die kwalifikasie oorweeg, is om die ingesteldheid van lewenslange leer aan te neem, om honger te word om hul kennis en vaardighede te verdiep om sodoende hulself van ander te onderskei. “Die BCom (ondernemingsbestuur)-kwalifikasie was die eerste graad wat Akademia aangebied het en nou is die eerste honneurskwalifikasie by die instelling ook in dieselfde veld. Ons maak geskiedenis en ons wil jou uitnooi om hiervan deel te wees.”

Indien jy belangstel om jouself verder te bekwaam in die ondernemingsbestuurveld met ’n honneurskwalifikasie, besoek gerus Akademia se webblad vir meer inligting. Studieaansoeke vir hierdie BComHons-kwalifikasie is reeds oop en sluit op Woensdag 22 Februarie 2023. Let daarop dat daar slegs ’n beperkte aantal studente tot die program toegelaat sal word. Akademia – jou Afrikaanse studietuiste!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article