Met die Rugby-wêreldbekerstryd in volle gang is ek bitter spyt dat ek nie ’n televisiestel in die huis het nie. Nou moet ek maar tevrede wees met News24 se wedstrydkommentaar, waar die vordering van die wedstryd in kort sinne opgesom word. Die kommentaar word gewoonlik elke twee minute deurgegee.

Dit kan uiters frustrerend wees, veral wanneer ’n kragmeting op ’n mespunt is. ’n Mens moet maar kalm en geduldig wees.

Ja, hier is verskeie kuierplekke en restaurante in en om Worcester waar ’n mens die wedstryd op TV kan volg. Die probleem is egter dat ek vol nonsens is.

Eerstens kan ek nie ’n belangrike sportbyeenkoms tussen ’n groep mense volg nie – selfs nie eens die paar keer wat ek op Nuweland was nie.

My aandag word afgetrek deur die mense om my. Ek hou daarvan om hul reaksie dop te hou namate die wedstryd vorder.

Sommige toeskouers is luidkeels geesdriftige ondersteuners van die een span en dit is ook steurend – veral wanneer hulle voor of naby jou op- en afspring.

Verder wil ek nie iewers kuier waar van jou verwag word om te drink nie. Dan raak die skare éérs luidrugtig.

Die weer speel ook ’n rol in my besluit om liewer saans tuis te bly as om ’n televisiestel te gaan opsoek. Dis doodeenvoudig te koud om jou neus by die deur uit te steek; wat nog van nadat die aksie verby is weer in ’n motor te klim en huis toe te ry.

Ek moet dus maar met News24 se kommentaar tevrede wees. Ek troos myself dat ek nie al een is nie, anders sou die diens nie aangebied word nie.

Dan is dit ook gerusstellend dat die meeste van die rugbywedstryde in dié stadium nie die kyk werd is nie. Die uitslag van die meeste is voorspelbaar.

Het enigeen werklik gedink Skotland of Roemenië gaan die Springbokke pakgee?

Toegegee, daar is ’n paar kragmetings waar die uitslag enige kant toe kan gaan. Soos hierdie Saterdag (23 September) byvoorbeeld, wanneer die wedstryd tussen Suid-Afrika en Ierland uiters spannend sal wees.

Die eindtelling kan Suid-Afrikaanse rugbygeesdriftiges se langnaweek ’n treurmare maak.

Sondagaand se wedstryd tussen Wallis en Australië gaan ook ’n naelbytstryd wees. Dit kan bepaal wie bo in poel C van die toernooi eindig.

Dis egter eers tydens die kwarteindwed­stryde oor die naweek van 14 en 15 Oktober dat sake begin interessant raak. En die naweek daarna, wanneer die halfeindronde-wedstryde sal bepaal watter spanne mekaar Vrydag 27 Oktober in die brons-eindronde takel en wie in die eindstryd die volgende dag, Saterdag 28 Oktober, op die veld gaan draf.

Ek hoop en vertrou dat Eskom nie die laaste sê gaan hê nie. Almal beskik nie oor kragopwekkers en inverters en ander toerusting om die elektrisiteit tydens beurtkrag aan te hou nie.

Gaaf van Eskom om verlede Sondag beurtkrag op te skort. Dit het sportgeesdriftiges in staat gestel om die Rugbywêreldbekerwedstryde te volg, of om die vyfde eendagkrieketwedstryd tussen Suid-Afrika en Australië dop te hou.

Die Proteas het die eendagreeks teen Australië met 3-2 gewen. Dit was opwarmingswedstryde vir die wêreldbeker- eendagwedstryde, wat Donderdag 5 Oktober begin.

Die Suid-Afrikaners se eerste wedstryd is Saterdag 7 Oktober teen Sri Lanka en dan kom ons elftal weer op 12 Oktober teen die Australiërs te staan. Vrydag 27 Oktober moet die manne in groen-en-goud Pakistan takel. Al die krieket-kragmetings begin om 10:30 Suid-Afrikaanse tyd.

Die naweek se rugbywedstryde skop om 21:00 (Suid-Afrikaanse tyd) af.

Worcester se Tafelronde is dapper om sy jaarlikse Follies die naweek van 27 en 28 Oktober aan te bied. Of is dit al naweek wat die venue, die Eikesaal, beskikbaar is?

Luidens hul Facebook-inskrywing gaan televisieskerms beskikbaar wees. Die vraag is: wat kyk jy?

Die beste rugbyspanne ter wêreld op die televisieskerm of die manne in rokkies op die saal se verhoog? Dit help ook nie om die wedstryde tuis op te neem met die idee om dit die volgende oggend te kyk nie.

Een of ander pretbederwer gaan luidkeels die eindtelling aankondig. Dis soos boek lees – jy wil mos nie weet hoe die storie eindig nog voordat jy die boek oopgemaak het nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article