Sowat 24 werknemers van RCL Foods (Epol) in Worcester, wat geaffilieer is by die Food and Allied Workers’ Union (Fawu), is sedert 5 Februarie reeds besig met ’n vreedsame, beskermende betoging buite die perseel van die fabriek in Smithstraat.
Die betoging vind plaas omdat geen ooreenkoms tussen die bestuur en werknemers bereik kan word oor ’n 7%-salarisverhoging, kostoelae en Kersfees-geskenkbewyse nie.
Die werkers se tussenganger, Curnell Arnoldus, sê aan Standard & Breederivier Gazette onderhandelings met die bestuur het reeds laat in September tot vroeg in Oktober verlede jaar begin.
Die werkers en bestuur kon tot nou nog nie ’n ooreenkoms bereik nie.
Volgens Arnoldus het werknemers aanvanklik vir ’n 15%-salarisverhoging gevra.
Hy sê omdat die maatskappy ’n 5%-salarisverhoging wou bied, het werkers toe besluit op ’n 8%-verhoging.
Volgens hom is die maatskappy in dié stadium bereid om ’n 6%- salarisverhoging aan werkers te gee.
Hy sê ná ’n vergadering met die bestuur op 6 Februarie kon steeds nie op die 8%-salarisverhoging ooreengekom word nie.
Volgens Arnoldus is werkers egter nou bereid om ’n 7%-salarisverhoging te aanvaar, maar die maatskappy hou vol met 6%.
Werkers kla ook oor hul kostoelae.
Arnoldus sê Rainbow Chickens en sy Fawu-lede het op ’n R310-kostoelae ooreengekom – dít terwyl Fawu-lede by Epol tevrede moet wees met ’n maandelike kostoelae van R75.
Nog ’n aangeleentheid waaroor die werkers en die bestuur nie ’n ooreenkoms kan bereik nie, is die kwessie rakende die Kersfees-geskenkbewys.
Volgens Arnoldus was die betrokke geskenkbewys in vroeër jare ’n sak met ses sakke hoender wat 2 kg elk weeg.
Hy sê tans, pleks van die hoender, bied die maatskappy ’n R370-geskenkbewys aan werkers.
Volgens hom dring werkers egter aan op ’n R500-geskenkbewys sodat hulle ten minste ’n sak hoender vir hulle kan koop.
“R500 is ook maar te min vir ’n sak hoender. Die maatskappy is nie eens bereid om dit vir ons te gee nie.”
Hy sê wat die maatskappy tans doen, is om werkers se geskenkbewys vir hulle saam met hul 13de tjek te gee. Volgens hom beteken dit dat die R370 wat werkers ontvang, belas word, dus ontvang hulle nie die volle R370 nie.
Arnoldus sê ’n ooreenkoms met betrekking tot oortydwerk – spesifiek op openbare vakansiedae – is reeds met die bestuur bereik.
Volgens hom wag werkers egter nog op die maatskappy om dié ooreenkoms op skrif te stel sodat dit onderteken kan word.
Hy sê die klousule vir oortydwerk moet gebaseer word op die Wet op Basiese Diensvoorwaardes – dat geen werker verplig word om op openbare vakansiedae te werk nie.
Volgens Arnoldus is die werkers bereid om met die betoging voort te gaan totdat hulle kry wat hulle toekom. “Ons mense is net fed-up vir die manier waarop met ons gewerk word.”



