Die A-afdeling se voorlopers in vanjaar se Sanlam-Boland-Top-12-kompetisie, Caledon, het die mede-voorloper en ook onoorwonne Worcester Villagers (Villa) op Bolandpark met 42-18 kafgedraf nadat die tuisspan teen rustyd nog met 13-10 sterk in die prentjie was.

Caledon, of die Canola Boys, het met sy oorwinning ook ’n duidelike boodskap aan al die ander aanspraakmakers gestuur dat hulle met mening hul ligatiteldroom lewendig hou.

Die Caledonners het van die afskop af hul voorneme duidelik gemaak en die teenstanders se doellyn met mag en mening aangeval. Dit het vrugte afgewerp toe hul staatmaker-heelagter, Lorenzo Swart, met ’n strafskop slaag.

Villa se skrumskakel, Gurshwin Africa, het sake kort hierna gelyk gemaak toe hy ook met ’n strafskop geslaag het. Villa het kort hierna weer ’n strafskop binne trefafstand gekry, maar verkies om die kantlyn op te soek. Van die daaropvolgende lynstaan af het hulle skitterend gedryf en Anthony Verhoog (haker) het die drie gedruk.

Caledon het egter met mening terug­ge­slaan toe Swart by sy gevaarlike agterlyn aangesluit en gaan druk het.

Ná rustyd het Caledon ten volle beheer geneem en met sy agterste driehoek skitterend op dreef moes Villa vir ’n vale keer om die Canola Boys van sy doellyn te hou. Caledon is beloon toe Preston Dramat (agsteman) oorgaan vir ’n drie, wat Swart ook verdoel het.

Villa het teruggeslaan toe Cubitt Micheals (linkervleuel) oor is vir ’n drie wat nie verdoel is nie. Villa het hierna weer ’n kans gekry om sy voorsprong te rek, maar Juan Williams (regtervleuel) het met ’n oop doellyn voor hom aangeslaan. Caledon was weer voor toe Swart met nog ’n strafskop slaag.

Villa moes met 14 man klaarkom toe Benito McPherson (slot) met ’n rooi­kaart vir ontoelaatbare spel gestraf is.

Caledon het die wedstryd 42-18 gewen en daarmee na die halfeindstryd deurgedring, met nog een wedstryd wat voltooi moet word.

Saterdag reis Villa na Van Rhynsdorp en hy moet hierdie wedstryd wen om deur te dring na die halfeindstryd, wat in Wellington gaan plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article