’n Man van 25 jaar is die afgelope naweek dood aangetref nadat hy deur ’n vermeende bendelid gesteek is.
Die Worcester-polisie het op Sondag 4 September om 13:40 op ’n klagte in Ysselstraat in Riverview gereageer. Toe hulle op die toneel aankom, het hulle dié 25-jarige man aangetref waar hy op sy maag gelê het.
“Sy kop het af na die grond toe gelê en hy het drie steekwonde in die rug en een aan die ken gehad. Volgens die een getuie is die oorledene deur ’n groep bendelede agtervolg en hulle het hom toe met ’n skerp voorwerp gesteek,” bevestig AO Vatishwa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie.
Cecil Arries, ’n nabye inwoner, vertel aan Standard hy het net ná hul Sondagmiddagete ’n “helse geskree” gehoor en dadelik gaan ondersoek instel.
“Dit was ’n groep mans wat op mekaar geskree het. Dis al wat ek deur die venster kon sien.
“Die een het gehardloop en heeltyd omgekyk, en daar was net ’n kyk in sy oë wat my laat dink het iets is nie pluis nie. Minute later hoor ons toe van die messtekery – dit het net gekliek.”
Vatishwa voeg by dat die inligting wat van mense in dié gemeenskap ontvang is, gehelp het om die vermeende bendelede op te spoor.
“Ons span het toe saam met die Worcester-misdaadsvoorkomingseenheid gereageer en dit nagespoor tot ’n informele huis in een van die erwe in Ysselstraat. Met hul aankoms was die huis gesluit, maar die polisie kon toegang verkry. Die verdagte en drie ander mense is binne aangetref, tesame met onder meer 39 Mandrax-tablette en 38 sakkies tik,” het Vatishwa bygevoeg.
Al vier mans is in hegtenis geneem – vir die besit van dwelms – en een vir moord. Die vier mans het op Maandag 5 September vlugtig in die Worcester-hof verskyn, maar die saak is vir eers uitgestel en hulle word aangehou.
Arries voeg by hy en sy gesin voel soms onveilig in Riverview.
“Misdaad ruk lelik handuit. Ek woon al my lewe lank in Worcester en is al 20 jaar hier in my huis.
“Die afgelope vyf jaar is dit nag.
“Messtekery, moord, geweerskote, gevloek, geskel –wanneer gaan dit ophou?”




