Die tweede Dienstekonferensie is Vrydag 23 en Saterdag 24 Februarie in Worcester gehou.
Die Dienstekonferensie is gemik op verbruikerstudie-onderwysers asook gasvryheidstudie-onderwysers en word deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement en die Kaapse Wynland-onderwysdistrik aangebied. Vanjaar is dit by die Mountain Mill inkopiesentrum gehou.
“Ons het verlede jaar ons grootste verwagtinge oortref en daar was nie genoeg plek vir almal nie. Dis hoekom ons dit hierdie jaar by die Mall gehou het,” verduidelik Romanda Viljoen, ’n vakadviseur vir die Kaapse Wynland- onderwysdistrik.
Die eerste Dienstekonferensie het verlede jaar plaasgevind en was baie suksesvol.
“Ek hou gereeld vergaderings met die onderwysers. En almal is altyd so gejaagd en gedruk om die jaar se sillabus klaar te maak. En terwyl hulle daarmee besig is kom daar elke dag nuwe goed op die mark. So dit was ’n manier om professionele ontwikkeling aan die onderwysers te bied wat dan na die leerders kan deurspoel. Hierdie was ook die eerste jaar dat ons leerders genooi het. Ons het net gedink hulle kan ook baat vind by die konferensie en omdat dit fokus op vaardigheidsontwikkeling.”
Vanjaar het verskeie individue die gehoor toegespreek.
“Ons het byvoorbeeld die mense van Feedem gehad wat kom gesels het oor plantgebaseerde kos. Daar was ook iemand wat kom demonstreer het hoe om op ’n goedkoper manier jou eie kaas te maak.”
Die konferensie fokus ook op entrepreneurskap en toerisme.
“Leerders kan leer hoe om hul eie besighede te begin. Of hulle kan op bote gaan werk en selfs ook in die gasvryheidsbedryf.”
Die doel van die konferensie is ook om meer aandag aan hierdie onderskeie vakke te gee en mense in te lig dat hulle net so belangrik soos ander vakke op skool is.
“Verbruikerstudie, gasvryheidstudie en toerisme as vakke groei redelik baie in die laaste ruk,” het Viljoen gesê.





