Talle inwoners van die Breederivier-vallei is erg ontstig oor die gehalte van diens by die kantoor van die departement binnelandse sake, die lang gewag en die manier waarop hulle hanteer word.

Valleiers sê hulle is keelvol vir die beweerde gebrek aan dienslewering by die plaaslike kantoor van binnelandse sake. Lang rye, stelselfoute en die vlak van hulp wat verleen word, jaag talle mense die harnas in.

Standard het verlede jaar twee keer oor die lang rye en gebrek aan dienslewering by hierdie tak berig. Na wat van inwoners verneem word, is hierdie kwelpunte onveranderd.

Wilmie Bruwer, ’n inwoner van Worcester, was onlangs ’n slagoffer van diefstal en is in die proses haar ID en haar dogter se geboortesertifikaat kwyt.

“Ek probeer nou al drie weke lank om net dié dokumente weer by binnelandse sake te hernu. Ek werk ook elke dag van 08:00 tot 16:00, so, om tyd af te vat om dit te gaan doen, is moeilik. Ek was nou al drie keer daar – een keer was die stelsel van lyn af, die ander keer het ek amper ’n uur en ’n half in die ry gestaan en is toe ingelig dat hulle nie meer mense daardie dag gaan help nie – dit was blykbaar te naby aan sluitingstyd. Ek is toe weer verlede week soontoe en is ingelig dat die stelsel landswyd af was,” vertel sy moedeloos.

David Hlabane, ’n woordvoerder van die departement van binnelandse sake, sê hulle het die afgelope week ’n landwye krisis met hul hoofstelsel gehad.

“Ons hoofstelsel het Maandagmiddag ’n grootskaalse probleem ervaar. Die departement het twee kragopwekkings­eenhede asook ’n ekstra battery wat aan die stelsel in Pretoria gekoppel is, maar weens beurtkrag en ander faktore buite ons beheer is die stelsel onderbreek en was dit vir twee dae tegnies van lyn af. Ons het spoedig gewerk om die probleem te herstel en dit is nou verby. Ons kon nie ID’s, paspoorte of tydelike paspoorte uitreik nie,” het Hlabane bygevoeg.

Bruwer sê sy weet nie wanneer sy weer ’n amptelike ID sal hê nie en is erg gefrustreerd oor die situasie.

Talisa Burger, ’n inwoner van Rawsonville, sê sy het al twee keer in een week langer as twee ure in die ry gestaan en is telkens net ingelig sy moet maar op ’n ander dag terugkom.

“Die feit dat stelsels nie werk nie en dinge lank vat, pla my nie so erg nie. Die manier waarop mense hanteer word – veral deur die bestuurders – is wat my verstand te bowe gaan. ’n Glimlag kos niks; om jammer te sê, ook nie.”

Die diens is na bewering ook stadig wanneer beurtkrag die dorp tref.

Standard het die plaaslike kantoor van binnelandse sake op ’n paar verskillende geleenthede oor twee dae telefonies probeer kontak, maar oproepe bly onbeantwoord – gedurende beurtkrag sowel as ander ure wanneer die krag wel aan is.

Die teendeel geld egter ook, want sommige sê hulle is vinnig gehelp.

Tanya Walters van Worcester het aan Standard gesê sy het einde verlede jaar om haar paspoort aansoek gedoen en dit binne minder as twee weke ontvang. “Dalk was ek net gelukkig. Ek weet sommige mense sukkel wat diens betref, maar ek is dankbaar hulle kon my so vinnig help.”

Sy was egter in die week terug om haar dogter se ID-kaart af te handel.

“Ons is nou al twee ure hier en het nog geen hulp ontvang nie. Hier is darem stoele, want laas moes ons staan.”

Rian Smit, ’n inwoner van Bellville, het besluit om nie die stad se plaaslike dienste te gebruik nie, aangesien hy die proses wou bespoedig. Hy is deur ’n vriend aangeraai om na Worcester te kom en is vandag spyt oor die besluit.

“ ’n Mens kry nie hulp nie. Ek moet my basiese plig uitvoer, maar ’n mens sukkel hier. Ek het al sekerlik vyf keer van die Kaap af gery om te probeer. Die aansoek is uiteindelik afgehandel en ek het al in Februarie ’n boodskap ontvang dat my kaart afgehaal kan word. Elke keer is daar ’n verskoning, of ons word weggewys.”

Hlabane meen egter inwoners moenie huiwer om die inbeldiens te gebruik om klagtes aan te meld nie.

Hy sê sekere dienste kan bespoedig word deur die departement se webtuiste (www.dha.gov.za) te gebruik. . Die inbelsentrum kan bedags by 0800 60 11 90 of per e-pos by hacc@dha.gov.za bereik word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article