Patricia Booysen is op 4 Julie 2006 in Worcester gebore. Sy is egter met spina bifida gebore, wat aanleiding gee tot spesiale versorgingsbehoeftes.
Patricia is op 23 September 2006 in die sorg van Philida en John Louise geplaas, wat haar versorg en grootmaak soos hul eie. As gevolg van haar spesiale behoeftes besoek sy sedert kindsbeen die Rooikruis-hospitaal gereeld.
Die meisietjie is op sesjarige ouderdom by Breedevallei APD se Rise and Shine- spesiale dagsorgsentrum toegelaat.
Patricia het gou in haar onderwyseres, Susan Baird, en mede-opvoeders se hart gekruip. Patricia het fluks by Rise and Shine gevorder en gewys sy is ’n leerder met baie potensiaal.
As gevolg van die spina bifida en die spesiale behoeftes wat daarmee gepaard gaan, wou geen hoofstroomskool Patricia aanvaar nie, ten spyte van die skolastiese potensiaal wat sy getoon het.
Dit is totdat die gesin se paaie met Hubert Titus van Worcester R.K. Primêr gekruis het. Hy onthou: “As ouer het ek groot simpatie en begrip vir hul desperate poging om haar by ’n skool in te skryf, juis omdat ek ook ’n dogter met spesiale behoeftes het en eerstehandse ervaring het van hoe deure soms toegeklap word.”
Patricia is in 2018 as gr. 1-leerder by Worcester R.K. Primêr ingeskryf. ’n Aansoek vir ’n voltydse fasiliteerder, wat met Patricia se spesiale behoeftes behulpsaam kan wees, was suksesvol danksy die aanvoerwerk van die Kaapse Wynland-distrik se leerondersteuningskoördineerder, Fagmieda Gallie. Faith Schroeder is as hulp vir hierdie besonderse meisie aangestel.
Patricia se klasopvoeder, me. Nieuwenhuys, het gou berge met haar versit, en binne ses maande kon sy vlot lees en somme maak!
Patricia het so flink gevorder dat die skool in 2019 by die WKOD vir haar aansoek gedoen het vir “accelerated progression’’, wat erkenning gee aan die feit dat sy gr. 2 én gr. 3 suksesvol voltooi het.
“Een somersoggend in 2019 was ons die eerstehandse getuies van hoe Patricia model-lees voor ’n groepie kinders,” onthou Titus. “Sy het kompleet soos ’n ‘wafferse juffrou’ vir haar klasmaats gesit en ‘lesgee’.”
Patricia se gesondheid is nie sonder uitdagings nie. Sy besoek steeds die Rooikruis-kinderhospitaal gereeld.
Sy is nou in gr. 6, waar sy as een van die bogemiddelde leerders floreer.
Haar prestasie en algemene positiewe ingesteldheid dra grootliks daartoe by “en ons bly glo in haar”, sê die skool.
Sy is bemind onder die opvoeders en haar medeleerders.
Haar netheid en sindelikheid spreek van trots, wat selfvertroue inboesem.
Die opvoeders van Worcester R.K. Primêr het lief geraak vir haar karakter en wil haar ten alle koste beskerm.
Dit is vir die personeel ’n groot plesier om ’n klein aandeel te hê aan die uitbouing van hierdie spesiale karaktertjie se potensiaal.
Patricia se lewenspad tot dusver is ’n sprekende voorbeeld van die gee – en insgelyks ook die gebruik maak – van geleenthede.




