“No man is an island,” lui die bekende Engelse gesegde.
Ons sal nooit die een sonder die ander kan klaarkom nie, en dié besef bring my weer eens tot stilstand ná ’n benoude oproep: “My man het sy been verloor en hy is baie depressief. Kan julle nie met hom kom praat nie, asseblief? Ek weet nie meer hoe om hom te ondersteun nie.”
Ek het onmiddellik die waarde van ondersteuning tussen mense met gestremdhede vanuit soortgelyke omstandighede besef.
Eveline Booysen is 53 jaar oud en woon saam met haar jongste dogter in die woonbuurt OVD.
Hoewel sy voorheen by Breedevallei APD weens trauma aan haar nek ingeskakel het, het sy ses jaar gelede haar linkerbeen weens diabetes verloor.
Verlede jaar het sy haar ander been weens brandskade met ’n warm-watersak verloor. Ten spyte van hierdie uitdagings is Eveline een van Breedevallei APD se aktiewe vrywilligers wat ondersteuning bied aan ander in die gemeenskap wat gestremdhede het. Natuurlik vra jy jouself af hoe jy dan nog ’n verskil in iemand anders se lewe kan maak as jy soveel uitdagings het wat jy self ervaar? Maar Evie, soos ons haar ken, se antwoord op die vraag was as dit nie vir die hulp en ondersteuning was wat sy van Breedevallei APD ontvang het nie, sou sy dit nooit oorleef het nie. Sy was bang en skaam om weer by die gemeenskap in te skakel omdat sy bekommerd was oor wat mense van haar sou dink – ’n enkelmoeder sonder bene in swak maatskaplik-ekonomiese omstandighede.
Met die hulp en ondersteuning van Breedevallei APD en ander mense met gestremdhede was sy in staat om haar kop met trots te lig en haar maatskaplike verantwoordelikheid in die plaaslike samelewing na te kom.
Die ondersteuning wat sy by Breedevallei APD ontvang het, was die oorwinning wat haar in staat gestel het om ’n normale, geïntegreerde, onafhanklike lewe te lei – en ook hulp en ondersteuning aan ander mense met gestremdhede te bied.
Vandag is Evie die ideale mens om hulp en ondersteuning aan die slagoffer aan die ander kant van die telefoon te bied.
Ná slegs een ontmoeting het die man aan die ander kant van die telefoon ten spyte van sy swaar gemoed tot die volgende insig gekom: “Ek het my bene verloor, maar toe ek sien wat jy vermag het, het dit my weer moed gegee om elke dag op te staan.”
Deur middel van wat ons noem “peer support” kon Evie haar kennis, emosionele, sosiale en praktiese ervarings as iemand met ’n gestremdheid wat ’n rolstoel gebruik, deel en iemand help wat soortgelyke ervarings as sy deurgemaak het.
Terselfdertyd laat dit Evie van waarde en van nut in haar gemeenskap voel – ten spyte van haar eie uitdagings.




