Standard
fokus vandeesweek op die belangrikheid van vroue wat in die werksplek aan die stuur van sake staan en deur hierdie sukses ander vroue inspireer om soortgelyke sukses te bereik.
’n Paar dekades gelede was die tendens dat vroue rolle vervul as ’n bydrae tot die huishouding of gewoonlik ’n man se sukses. Hierdie siening het vinnig verander en bewys dat vroue ewe veel tyd in hul huishouding as agter die stuur van belangrike sakeondernemings kan deurbring.
Een so ’n vrou is Amanda Odendaal van Worcester. Baie mense ry verby die bekende motorhandelaar AO Motors en besef nie dat dit juis haar naam op die bord is nie. Sy het dié onderneming in 1997 met R2 000 in die sak en ’n droom om ’n sukses van haar lewe te maak, begin.
Bykans drie dekades later is die onderneming steeds suksesvol, maar dit is nie waar Odendaal gestop het nie. Sy het vier jaar gelede besluit om by die Keller Williams-eiendomsagentskap aan te sluit en verkoop deesdae nie net eiendom plaaslik nie, maar ook in Mauritius en Doebai. Sy skryf haar sukses aan haar geloof toe en sê elkeen moet sy (of haar) eie pad kies en volg.
“Besluit wie jy is. Selfbewustheid speel hier ’n groot rol. Soek in jouself die beste weergawe van jouself en voeg by alles wat jy doen, meer daarvan in. Jy is jou eie CEO; moenie vergeet dat daar wel ’n reuseverskil tussen probleme en die werklikheid is nie. ’n Mens kan aan probleme werk. Besef dat jy waarde het. Mense raak dikwels raadop omdat hulle byvoorbeeld 20 of 25 jaar lank dieselfde patroon volg, en glo later hulle is niks werd nie. Sien die waarde in jouself en maak jou eie pad oop.”
Sy sê dit is belangrik vir vroue om hul eie ondernemings te begin.
“Ons land se toekoms lê daarin. Ons moet al die klein sakeondernemings inspireer om te begin en dit sterk ondersteun, want dit skep ook geleenthede wat nie net met werkskepping en die groei van ons ekonomie gepaardgaan nie, maar ook geluk – jou eie geluk op die ou einde.
Besigheid begin maar grotendeels, soos enigiets anders, by jou denke. As jy reg dink, gaan jy die regte gevoelens kry en daarmee gepaard gaan jy die regte aksie neem, en met die regte aksies gaan dit jou op die ou einde tot jou daaglikse roetine lei, en uiteindelik is dit ’n hele kringloop wat dan tot jou eindbestemming – jou sukses lei – sal lei.
Dit is ook baie belangrik om jouself te omring met positiewe mense, soos familie en vriende.”
Nog so iemand is Dalia Strauss (32), ’n grafiese ontwerper, wat bykans ’n dekade lank al haar onderneming, Picture This, bestuur.
Sy het aanvanklik in die Rawsonville-omgewing begin fotografie doen en het later die hele Boland vol gereis.
Sy het op ’n dag besluit sy hou meer van grafiese ontwerp en doen toe ’n kursus in web-ontwikkeling. Deesdae bestuur sy haar onderneming van die huis af en het al vir groot maatskappye soos Deloitte en Mall of Africa webtuistes ontwerp.
“Ek werk van die huis af en bestuur my onderneming van die huis af. My kliëntebasis is in Europa en Amerika gevestig, maar ek het kliënte in Suid-Afrika ook. Ons het baie arm grootgeword en ek het net op skool besluit dit sal nie my toekoms bepaal nie. Ek het vir my ’n goedkoop kamera gekoop en begin foto’s neem. Met daardie geld het ek aanhou spaar en my onderneming uitgebrei,” verduidelik Strauss.
Haar verloofde bestuur ’n plaas in die Rawsonville-omgewing en sy het ’n gedeelte van die huis in ’n werkruimte omgeskep.
“Dit kan gedoen word. Ek het nou twee mense wat my voltyds bystaan en vir my werk. Nooit sou ek kon droom dat ek myself ’n sake-eienaar kan noem nie, wat nog van suksesvol wees. Ek is ook besig om die onderneming verder uit te brei en wil kunsklasse en kursusse vir web-ontwikkeling aanlyn aanbied.” Albei hierdie vroue sê sukses kan deur jouself bepaal word en hoewel daar uitdagings is wat jou kan kortwiek, moet jy nooit opgee nie.





