Die 21-jarige Tariq Klink van Worcester het die geleentheid om eersdaags aan ’n groot skoonheidskompetisie in Gauteng deel te kan neem.


’n Jong man van Worcester is opgewonde om eersdaags aan ’n bekende skoonheidskompetisie deel te neem en hoop hy kan met die louere wegstap en ander jongmense inspireer om hul drome na te jaag.

Tariq Klink (21) is ’n Worcesteriet wat al aan talle skoonheidskompetisies deelgeneem het. Volgende maand reis hy na Pretoria om deel te neem aan Mr. Universal South Africa.

“Ek het in 2019 aan my skool se Mnr. en Mej. Breërivier deelgeneem en in die Top-5 geëindig – dit was ook my eerste skoonheidskompetisie. In 2021 het ek aan Mr. Super Phenomenal Worcester deelgeneem en was toe gekroon as die wenner. In 2022 het ek aan Mnr. Boland deelgeneem en het in die tweede plek geëindig. Al hierdie kompetisies het vir my baie geleer en ek het vreeslik gegroei as mens.”

En op 19 November verlede jaar het Klink uitgestyg toe hy aan Mr Western Province deelneem en die titel verower het. Hy is tans steeds die titelhouer en het gereelde pligte wat hy in sy hoedanigheid as wenner moet uitvoer.

Hy is ook nie net ’n mooi gesig nie, maar ’n slimkop ook. Hy is tans ’n derdejaarstudent by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) en studeer ’n graad in menslikehulpbronbestuur.

Vanaf 29 Maart tot 2 April gaan Klink in Pretoria deelneem aan die Mr. Universal South Africa. Hy vertel aan Standard dat hy baie geëerd voel en opgewonde is om aan die kompetisie deel te neem. Hy werk tans hard om voor te berei hiervoor.

“As ek die titel sou wen wil ek van die geleentheid gebruik maak om jongmense in my gemeenskap te inspireer. Ek wil graag hawelose mense ook help, want ek glo almal verdien ’n tweede kans in die lewe. Ek wil ook baie meer gestremde organisasies ondersteun in die toekoms – ek het ’n groot liefde vir kinders met gestremdheid.”

Hy vertel verder dat sy ondersteuners hom elke dag aanspoor om beter te doen en om suksesse te bereik.

“My grootste ondersteuners is my ma, ouma, my sustertjie en klein boetie. Hulle is die rede hoekom ek elke dag opstaan en my drome volg. My familie en vriende speel ook ’n baie groot rol in my lewe en hulle ondersteuning beteken altyd vir my die wêreld,” voeg hy by.

Alhoewel Klink vreeslik opgewonde is om deel te neem aan die kompetisie, heers daar ook talle finansiële uitdagings.

“Sulke kompetisies is ’n duur saak en die koste vir hierdie geleentheid is omtrent R19 500. Dit sluit in vervoer, verblyf, klere, inskrywingsgeld en dies meer. Dit is ’n aardige bedrag, maar ek weet as ek wen kan ek ’n verskil in my gemeenskap maak.”

Sy familie beskryf hom as iemand wat nie opgee nie en volhard in alles wat hy aanpak. Hy was selfs op skool ’n uitblinker in atletiek en kon altyd die beste maak van enige saak.

Enigiemand wat vir Klink kan of wil bystaan kan hom kontak by 063 301 7753.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article