Worcester se Siverfox, oftewel Andre du Preez, weet hoe om met slange te werk.Foto:


Die bekende slangman van Worcester, André du Preez van Silverfox Snake Removals, is vanjaar weer heel bedrywig in die “slang-seisoen”.

So ver in die seisoen, met nog maande oor van slange vang, het André reeds van aangesig tot aangesig met 160 slange te doen gehad. Maar hierdie getal kan nog tot sowat 300 slange of meer styg.

André het heel toevallig Worcester se amptelike slangvanger geword, bloot omdat hy – as hy te hore gekom het van ’n slang in iemand se huis – sy hulp aangebied het. Hy het immers van die jonge ouderdom van 14 jaar reeds met slange kennis gemaak.

André sê in die huidige slangseisoen, ook hoogsomer, is die slange ’n bietjie meer – veral dié wat uiters giftig is.

Hy sê die rede hiervoor kan wees weens die baie lang en nat winter wat pas verby is en dan nou ook ’n baie warm somer.

En waar Jan en alleman slange wil vang as hulle net aan ’n slang dink, het André nie ’n bang haar op sy kop vir hulle nie, maar wel baie respek, sê hy.

“Nee, ek is nog nooit deur ’n slang gepik of het eens naby aan ’n byt gekom nie. Maar ek het nog nooit my respek vir hulle verloor nie. Ek is ook nie ’n selfoon-‘warrior’ nie. Dit beteken ek doen nie simpel goed dat mense dit kan afneem nie.

“Ek is te alle tye baie versigtig en respekvol – in die slang-ding is daar nie plek vir foute soos ‘oeps, kom ons doen dit weer’ nie.”

André sê met die huidige veldbrande kan slange dalk meer in die dorp voorkom wanneer daar geen kos in hul natuurlike habitat is nie, omdat veldmuise en rotte dorp toe kom om van die brande te ontsnap en die slange kom dan agterna. “Maar dit is die natuur se manier.”

Hy sê die vreesaanjaendste ervaring is altyd as dit by kinders en slange kom.

“As ’n Kaapse kobra in ’n kind se speelkamer of onder sy bed beland, is ek net verlig dat my hulp betyds ingeroep is. Maar dit is weer ’n bewys dat slange nie aanval nie. Hulle sal wel net hulself verdedig as hulle bedreig voel.”

André was onlangs weer in die nuus toe sy hulp ingeroep is om ’n otter te vang wat amok in ’n tuin in Reüniepark, Worcester, gemaak het.

Hy het hierdie reddingspoging as “ ’n bucket list-ervaring” vir hom beskryf. Dit was egter glad nie die eerste keer wat André tot die redding moes kom om ander gediertes veilig te verwyder en terug te neem na hul natuurlike habitat nie.

“Ek moes eenkeer ’n rooikat vang wat onder ’n wendyhuis in Eikelaan geskuil het. Dan was daar ’n rooijakkals wat ek in Worcester se nywerheidsgebied moes red. Ander kere wasdit stinkmuishonde, uile, arende en dies meer.”

André stel dit duidelik as slange nie bedreig voel nie, is hulle eintlik onskadelik. Hulle is ook ’n baie belangrike deel van ons oorlewing.

“Sonder slange sal muise en rotte oorneem en ons voedsel opvreet, en kragdrade in dakke afkou, wat kortsluitings veroorsaak.

“Wanneer jy ’n slang sien, staan stil. Slange reageer op beweging en vibrasie. Beweeg terug terwyl jy na ’n slang kyk.

“Maak die deur toe en sit ’n opgerolde handdoek onder teen die deur se opening. Waarsku ook almal in die huis dat daar ’n slang in die kamer is en hulle moenie daar ingaan nie, en bel my vir hulp.”

As natuurliefhebber is André se hooffokus te alle tye wanner hy op roep is om ’n slang of ander gedierte te verwyder, om na die veiligheid van die gedierte om te sien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article