Die opskrif sê baie.
Daar is min priesters of dominees wat die titel “Heer” of “Sir” het. In hierdie geval is dit ’n DoofBlinde priester.
Ja, jy lees reg! Dit is een van die Britse monarg se gewoontes om eer toe te ken aan die besonderse impak wat ’n individu op ’n groot gemeenskap gemaak het. Ons het al van baie “Sirs” gehoor, maar dié DoofBlinde priester is uniek.
Hoe het dit gebeur dat die priester so iets te beurt sou val? Hy is by name Vader Cyril Axelrod, wat Doof gebore is en later ook Blind geword het.
Hy moes ook hard werk om sy titel as priester te bekom. Die Anglikane wou hom nie aanvaar nie en hy het hom toe tot die Katolieke gewend. Hy het menige Dowe paartjie in die eg verbind en geseën. Steeds het hy ’n roeping gehad.
As Suid-Afrikaanse burger het hy hom eers op die Macau-eilande gaan vestig. Hier het hy ’n organisasie vir Dowes op die been gebring sodat Dowes in Macau ’n platform vir selfverteenwoordiging kan hê. Hy het hom ook later in China gevestig en nie net die bediening gedoen nie, maar ’n hele paar organisasies vir Dowes en DoofBlindes gestig en verder ontwikkel.
Hierdie inisiatief het daartoe gelei dat leiers van China Vader Cyril by die koningin van Engeland as ridder benoem het. Vader Cyril het hom later ook in Engeland gevestig, waar hy fondamente gelê het vir platforms vir die selfverteenwoordiging van Dowes en DoofBlindes.
Vader Cyril het in vele lande oor die wêreld heen gereis en lesings by universiteite en organisasies oor begeleiding en kommunikasietegnieke vir DoofBlinde mense aangebied. Die diens wat Vader Cyril aan mense gelewer het, het die koningin oorreed om die titel “Sir” aan hom toe te ken.
Ek was onlangs bevoorreg om by ’n boekebekendstelling van Vader Cyril te wees. Sy eerste boek se titel is The Journey began; Die reis het begin. en die tweede boek se titel is The Journey Continues; Die reis gaan voort.
In hierdie boeke is stories van Vader Cyril se wedervaringe en sy ervaring van alledaagse gebeure opgeneem – hoe hy mense verras met sy intelligensie, asook deur alleen in sy wooneenheid in Londen te woon en homself te versorg. Die derde boek is verstommende kunsillustrasies wat deur Vader Cyril geskilder is. Dié kunswerke bestaan uit tasbare teksture sodat ’n mens nie net met die oog daarna kan kyk nie, maar ook met die hand kan voel en die prentjie kan uitmaak.
Hierdie ware verhaal is maar een van vele wat bewys dat die lewe van DoofBlinde mense meer inhoud behels as wat ’n mens sou verwag en die bewys dat ontwikkeling van vaardighede noodsaaklik is vir ’n sinvolle lewe tot in die oudag.


