Verskeie debatte het die afgelope tyd ontstaan oor die aanhou van pitboels as waghonde en troeteldiere nadat verskeie berigte oor die persepsie van hierdie honderas se inherente temperament en beweerde aggressiewe natuur onlangs gepubliseer is.
Talle berigte het ook gehandel oor kinders wat deur veral hierdie honderas aangeval is en selfs tot sommiges se dood gelei het.
Standard het die afgelope paar maande berig oor verskeie mense en selfs kinders wat deur pitboels aangeval is.
Hoewel talle nou meen dat hierdie honderas in Suid-Afrika verbied moet word, is daar ook diegene wat die teendeel wil wys en sê hierdie honde kan met die regte leiding baie liefdevol wees.
Lande soos Finland, die Verenigde Koninkryk en Portugal het hierdie honderas al verbied.
Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (DBV) verduidelik dat hulle tans gebuk gaan onder eienaars wat pitboels by verskeie takke landwyd oorgee.
“Ons het die afgelope paar weke ’n eksponensiële hoeveelheid mediablootstelling met betrekking tot pitboels se aanvalle op mense – veral kinders – ervaar.
Gevolglik staan DBV’s oor Suid-Afrika heen voor die moeilike taak om die gevolge van hierdie tragiese aanvalle te hanteer.
Pitboels word in groot getalle aan DBV’s oorgegee en in gemeenskappe waar eienaars nie hul pitboels oorgee nie, begin ander mense eie reg gebruik. Diere word vergiftig, gesteek, geslaan en aan die brand gesteek as vergelding deur woedende gemeenskapslede,” verduidelik Keshvi Nair van die DBV aan Standard.
Nair sê hierdie kwessie het ook die aandag van groot politieke partye, nasionale vakbonde en nasionale burgerlike organisasies getrek, wat die DBV aanhaal of verkeerd aanhaal en sodoende pitboel-eienaars dreig en opdrag gee om hul honde aan die DBV oor te gee.
“Namate al meer aggressiewe honde aan DBV’s in Suid-Afrika oorgegee word, is die DBV’s ook bekommerd oor die uitwerking wat dit op takke sal hê (veral die kleiner verenigings wat in afgeleë gebiede werk) asook wat sal gebeur in die gebiede waar daar geen DBV’s is nie. Die DBV ontvang nie finansiering van die regering nie. Benewens die noodsaaklike diens wat ons reeds met beperkte hulpbronne aan ons gemeenskappe verskaf, word ons ook gekonfronteer met die hantering van hierdie kwessie.”
Tesna Palvie van Leo’s Foundation, ’n plaaslike skut, voel egter hierdie honderas moet nie verban word nie, maar strenger opleiding moet aan eienaars gegee word.
Sy sê hierdie honde kan wel gewelddadig wees, maar voeg by dit hang af van hoe die hond grootgemaak word.
Sy voel ook huise met hierdie soort honde moet goed omhein word.
Palvie spog met vele suksesverhale oor pitboels wat gerehabiliteer is en vandag wonderlik is teenoor kinders.
Juenieta Everson van Sandy’s Eden verduidelik hulle het die afgelope maand 15 gevalle van honde-aanvalle hanteer, maar beaam eienaars moet beter ingelig en toegerus word met die nodige kennis om hierdie kragtige ras te hanteer. Sy sê hierdie honderas moet bloot met die regte respek hanteer word.
Een so ’n eienaar is Nico Hattingh van Worcester, wat al van kleintyd af met hierdie diereras grootgeword het.
“Ek is onmenslik lief vir my pitties, en dit sal hartseer was as hulle weens onverantwoordelike eienaars verban moet word. Ek kan toegee dat hierdie honde soms na aggressiwiteit kan neig, maar dit handel alles oor hoe hulle grootgemaak word en wat hulle geleer word.
“Myne sal nie ’n vlieg skade aandoen nie. Hierdie honde is jare lank al uitgebuit en gewelddadige maniere aangeleer om veral aan hondegevegte deel te neem.
“Jy kry ook mense wat hulle sal misbruik om as veiligheidshonde opgelei te word.
“ ’n Troeteldier bly ’n troeteldier – hulle is nie daar om jou sekuriteit te wees en mense aan te val nie. Jy hou hulle dan vir die verkeerde redes aan.”
Hattingh sê lisensies moet aan eienaars uitgereik word nadat deeglike inspeksie gedoen is om te bepaal of sulke eienaars verantwoordelik genoeg is om hierdie honderas as troeteldiere aan te hou.
Die DBV sê hy het groot risiko’s geneem en kostes aangaan om diere in gemeenskappe by te staan.
“Realisties gesproke het ons beweging nie die hulpbronne om die koste van hierdie nasionale veldtog te dek sonder ondersteuning van ander relevante rolspelers in hierdie saak nie,” sê Nair.
“Ons het die departement van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming formeel toegespreek om navraag te doen oor wat hul plan en strategie is om hierdie nasionale kwessie die hoof te bied, aangesien dit dié departement se verantwoordelikheid is.
“Daar heers ’n dringende behoefte vir die regering om in te gryp met betrekking tot hierdie kwessie, anders kan mense en diere op ’n nog groter skaal benadeel word,” sê Nair.





