Eendag, lank, lank gelede was daar ’n reisende sirkus in Suid-Afrika. Die naam daarvan ontgaan my nou, maar ek onthou wel “Bos” het daarin voorgekom.

Dit bestaan nie meer nie, maar dit blyk nou die hoofnar het agtergebly. En hy sorg steeds vir heelwat vermaak. Hy is baie lief daarvoor om luid op sy klakson te blaas, maar helaas, dis als net wind. En dan strompel hy maar weer van die een kraterflater na die volgende.

Maar pleks daarvan dat hy sy gehoor laat skaterlag, maak hy hulle tot kokens toe kwaad. Ja-nee, dié makoeloe het ’n manier om sy eie onbeholpenheid ten toon te stel, en dit ten koste van die publiek.

Ons agbare minister van paaie en wiele, Frikkie M’amparra, verwag sowaar van sy gehoor om vir sý foute op te dok. Die enigste masjien in die land wat rybewyse uitspoeg. is mos stukkend, maar Frikkie is lankal gewaarsku dié dag gaan kom.

En nou vir die kersie op die koekie: Die publiek moet dan maar R90 opdok vir ’n tydelike rybewys, hoewel dit alles sý skuld is. Bid jou dit aan! Sowaar as vet, hy trek al weer die leeu se stert.

As rookskerm hoor ons net die volgende dag die stukkende masjien is oorsee gestuur vir herstelwerk en buitendien, lisensies sal binnekort elektronies hernieu kan word. Sowaar?

Boonop, sê Frikkie, hy gaan Prasa binne die volgende jaar regruk. Wat my mos laat wonder op watter planeet lewe hy?

So ’n ou nar darem!

Die meeste spore is gesteel en die stasies afgebreek en verwaarloos. Gaan kyk maar self hoe dit lyk.

Sopas moes ons hoor 14% meer mense as die vorige jaar is die afgelope vakansietyd op ons paaie dood – byna 2 000 lewens.

Byna 9 000 boetes van meer as R10 miljoen is uitgeskryf.

Dit sou nie nodig gewees het as mense hulle net ordentlik op ons paaie gedra het nie.

Maar wag, was Frikkie dan nie ook die een wat toestemming gegee het dat drank by vulstasies se winkels verkoop mag word nie? Nie koeldrank nie, goeters met skop! Alkohol, ja.

Dis seker maar deel van hoe narre dink. Geen logika nie, maar dit maak ook nie saak nie, want hulle is daar om die gehoor te laat lag. As dit nie so tragies was nie, kon dit snaaks gewees het.

Feit is, Frikkie kan van die een padveiligheids­veldtog en -stelsel soos die pasmislukte Aarto-wetgewing voortstrompel, om van die mislukte e-tolstelsel in Gauteng nie eens te praat nie, maar die padsterftes neem toe – dit neem nie af nie.

Hoekom? Want geen veldtog op aarde gaan ’n duit verskil maak as bestuurders se gesindheid nie verander nie. Sopas moes ons weer koes vir mense wat van voor af kom en die sperstreep ignoreer, sodat óns moet padgee. Dis meestal taxi’s waarin met tot 20 lewens gedobbel word.

Kan iemand dan nie tog maar vir hoofnar Frikkie sê wat die probleem op ons paaie is nie? ’n Mens spel dit so: g e s i n d h e i d. Maar dalk kan hy nie nou dink nie – hy moet al weer sy gesig gaan grimeer!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article