Kersfees kruip nader en dus is dit tyd vir die immergewilde Robertson-feesmark. Vanjaar sal dié mark nog meer besonder wees met sy 21ste verjaarsdag deel van die fees.

Die idee om ’n Kersmark te begin, het in 2003 ontstaan toe die twee orreliste van die Robertson-Oos-gemeente, Stefné Marais en Marlene Zietsman, van die suksesvolle kunshandwerkmark “Kamers vol geskenke” gehoor het. Hulle het van die konsep gehou as ’n manier om geld in te samel vir ’n projek om die kerkorrel te laat uitbou ter wille van ’n beter klank vir die kerkgebou, wat jare tevore vergroot is om die groeiende gemeente te huisves.

Die gemeente het aan die werk gespring en onder die naam “Feesmark” begin om kunstenaars, wat mooi handwerk maak, deur ’n keuringsproses te werf. Hulp van die hooforganiseerder van die Worcester-Oos-kerk se Kersmark was van onskatbare waarde. Om nie datums vir die mark met ander gevestigde markte te laat oorvleuel nie, is die Feesmark vir Oktober/November beplan en die Robertson-Oos-gemeente het met talle vrywilligers se hulp en ondersteuning aan die gang gekom.

Elke jaar word ongeveer 110 makers van kunstige handewerk of uitsonderlike produkte gekeur om by die mark te kom uitstal.

Die Feesmark se bydrae tot die kerk se geld is standhoudend, danksy die harde werk van ’n klein groepie toegewyde vroue.

Die Feesmark is ’n hoogtepunt elke jaar van middel Oktober tot begin November. Wonderlike kunstenaars kom stal uit en moet soms van ver na Robertson reis. Die mark het hom bewys as een van die mooiste markte in die Wes-Kaap. Besoekers van oral – van die Karoo, die Tuinroete, die Overberg en die Weskus se dorpe – kom ondersteun die mark. Die gemeente van Robertson-Oos geniet dit om by die Feesmark bymekaar te kom, saam te werk deur dienstye te verrig, inkopies te doen of net heerlik saam te kuier in die restaurant wat keurige maaltye en lekker drinkgoed verskaf.

. Vanjaar se Feesmark het op 18 Oktober begin en duur tot 2 November. Tye: Weeksdae 09:00-19:00; Saterdae 09:00-16:00; Saterdag 2 November 09:00-14:00 en Sondae gesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article