Matrikulante wat vandeesweek met hul nasionale matriek-eindeksamen begin het, sal hul roosters mooi moet beplan om die impak van beurtkrag te fnuik.
Beurtkrag, wat die afgelope paar maande voordurend voorkom, het ’n groot uitwerking op sakeondernemings, huishoudings en nou ook op matrikulante wat vir hul heel laaste skooleksamen voorberei.
Hoewel Eskom, die nasionale kragvoorsiener, roosters uitwerk om verligting op sekere dae te bring en die invloed daarvan so ver as moontlik te beperk, raak dit steeds van die leerders in die Breedevallei.
Athol Cupido (17) van Touwsrivier is een van die leerders wat vertel hoe beurtkrag hom raak.
“Ek is iemand wat nie lank voor die tyd kan leer nie. Ek vergeet die werk te maklik. Ek moet die dag of twee voor die tyd leer en ek leer oor die algemeen beter in die aand. As die krag af is, moet ek ’n plan maak. Ons het nie kragopwekkers nie, en om by kerslig te leer, is moeilik.”
Nog so iemand is die 18-jarige Noliswa Nobbie van Zwelethemba. Sy vertel sy moet gereeld by kerslig sit en leer en het die afgelope jaar haar huiswerk en die meeste skooltake in die donker of by kerslig gedoen.
“Ek het ’n lamp gehad wat ek kon herlaai, maar die lamp wil nie meer werk nie. Ek het toe kerse begin gebruik, maar dit is nie maklik nie. Ek doen ook sport, en in die middae is daar nie altyd tyd vir huiswerk nie en saans is die krag af. Ek probeer ook om met my ma se selfoon se liggie te sit en leer, maar dit is net nie dieselfde nie. Daar is ook baie kere dat ons straat se krag af is wanneer dit nié beurtkrag is nie. Dan het niemand nog geëet nie en ek moet leer, maar dit is donker.”
Caitlyn Visagie (17) van Worcester sê sy is baie dankbaar vir kragopwekkers by haar huis. Sy en ’n paar vriendinne het ’n leergroep gestig om saans saam te kan leer.
“Ons het ’n woonstel agter in ons erf wat in kantoorruimte omgeskep is. Ek en twee van my vriende leer gereeld in die aand saam en dan kan ons mekaar help en deur die eksamen ondersteun,” vertel sy.
“Beurtkrag het ’n uitwerking op almal, maar dit is ook in ’n mate lekker om dan te kan terugkyk en te kan sien hoe aanpasbaar ons as mense eintlik is. ’n Mens moet altyd ’n plan maak.”
Eskom het die afgelope naweek beurtkrag opgehef, maar dit van Maandag af weer ingestel. Die kragvoorsiener het in ’n onlangse verklaring gesê beurtkrag sal moontlik nog tot 2025 ’n realiteit wees.





