Polisiebeamptes het saam met die lede van veiligheidsdienste en plaaswagte ’n oefensituasie volgens protokol analiseer en inbeweeg om hulp aan die fop-slagoffers te verleen.Foto’s: Michelle Marais


Talle rolspelers in die Rawsonville-omgewing het Donderdag 1 Desember bymekaar gekom om hul fnuikstrategie rakende plaasaanvalle en diefstal in die vorm van ’n fop-aanval deur te trap.

Die Breedevallei-plaaswag (BFW) tesame met die Priority Care-ambulansdienste, G24, Vetus Schola, FADT, Boland Drones, die Worcester-polisie se vliegspan, die Rawsonville-polisie en talle boere en inwoners van die omgewing het saamgekom om die noodplan te oefen.

Die fop-oefening het begin met drie geweerskote wat op ’n plaas in die Boontjiesrivier-omgewing, sowat 7 km van Rawsonville af, afgevuur is. Die noodoproep het deurgekom en talle rolspelers, insluitend die plaaswag, die polisie en veiligheidsbeamptes, het binne minute gereageer en hul weg na die plaas en plaashuis gevind.

Toe beamptes op die toneel kom, het hulle dadelik geweet wat elkeen se rol vereis en vasgestel mense is tydens die voorval in die huis beseer. Hulle het die omgewing beveilig en ambulansdienste na die fop-toneel ontbied. Die paramedici was binne minute op die toneel.

“Dit is vir ons fantasties dat soveel rolspelers en belanghebbendes in die gemeenskap kan saamstaan om ons omgewing se mense en plaasbewoners veilig te hou. As iemand seerkry en ’n helikopter word benodig, kan die ambulansdienste dit binne 25 minute tot op die toneel kry en pasiënte vervoer,” verduidelik Nico Harmse, die voorsitter van die plaaswag, aan Standard.

Nadat die ambulansdienste gereageer het, het opgeleide beamptes met behulp van gespesialiseerde toerusting na die verdagtes gesoek. Hul het met ’n voertuig gevlug en niemand het geweet waarheen hulle sou ry nie. Danksy kameras en verskeie gemeenskapslede, wat by die oefening betrokke was, kon hulle binne sowat 20 minute die motor, die fop-aanvallers en verskeie wapens opspoor.

“Dit is ’n spanpoging tussen almal betrokke – ons beheerkamer en natuurlik boere en ander mense, wat na verskeie punte ontplooi word om die paaie te monitor. Daar is hier en daar goedjies waaraan ons nog moet werk, maar ons is bly dat ons soos ’n masjien in werking kon tree.”

Slegs twee mense het geweet waar die voorval sou plaasvind en almal is oor die omgewing versprei om juis die reaksietyd te toets. Na afloop van die fop-oefening het almal weer by ’n sentrale punt vergader en paar raakpunte bespreek om aan te werk.

“Ek moet vir elkeen ’n klop op die skouer gee. Terwyl ons hierdie oefening gedoen het, was daar werklik ’n alarm wat op my plaas afgegaan het, en my vrou was alleen by die huis. Binne minute was mense daar om uit te vind of alles veilig is. Dankie daarvoor,” het Zirkie du Toit, die eienaar van Klipdrift-plaas in die streek, gesê.

Harmse het aan Standard gesê hulle is tans baie aktief in die Rawsonville- en Worcester-streek.

“Ons gaan ook eersdaags na nabye dorpe uitkring. Ons werk aan ons plan om ons dienste en ons resep saam met ander rolspelers in nabye streke in werking te stel.

“Dit is werklikwaar ’n eer om hierdie omgewing en gemeenskap te dien. Plaasaanvalle veral is die norm deesdae, en ons sal alles in ons vermoë doen om dit te bekamp.”

Harmse het verduidelik dat veiligheid eintlik by jouself begin.

“Maak eerstens seker jy en jou gesin is veilig. Ons het verskeie wenke oor hoe om jou en jou eiendom te beveilig. Die beste is om aktief in die omgewing betrokke te raak. Werk aan ’n noodplan vir jou en jou gesin as iets by jou woning gebeur en skep ’n veilige omgewing met nodige hulpbronne soos kos, water, ’n mediese tas en ’n middel om kontak te maak met bure, die polisie of die plaaswag.”

Harmse kan gekontak word by 021 054 7666 of 082 699 8829.


Hy deel die volgende wenke:

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article