Liané Coetzee en haar hond, Diva, wat opgelei is om te ruik wanneer haar bloedsuiker verlaag.

Credit: SYSTEM

’n Vyfjarige diabeet verwelkom hierdie week haar mediese gidshond terug by die huis. Dié Labrador,Diva,is spesiaal opgelei om te ruik wanneer die vyfjarige Liané Coetzee se bloedsuiker te laag daal en om haar ouers te laat weet.

Tipe een-diabetes is by Liané gediagnoseer toe sy net drie jaar oud was.

“Sy het aan die einde van Augustus 2020 net skielik siek geword, en toe neem ons haar ongevalle toe. Ons het eers gedink dis haar mangels. Later het ’n dokter kom vra of ek nie kan ruik dat sy soet ruik nie. Toe hulle haar suiker toets, was dit oor 30,” verduidelik Liané se ma, Bianca.

Terwyl die kleintjie ’n paar dae in die hospitaal deurgebring het, het ’n suster Bianca van ’n mediese gidshond vertel.

“Jy weet, as jou kind siek en in die hospitaal is, gryp jy na als. Toe besluit ons om die mediese gidshond te kry. Ons het Diva gekry toe sy ses maande oud was. Toe sy een jaar oud was, het ons haar gestuur vir opleiding by Honey’s Garden for Medical Alert Dogs. Sy is nou twee jaar oud en het hierdie week haar opleiding voltooi.”

Mediese gidshonde word opgelei volgens hul eienaar se spesifieke diagnose en om uit te kyk of te ruik vir veranderings in hul toestand. Verder, verduidelik Bianca, is Liané baie opgewonde dat haar hond terugkom huis toe.

“Toe ons haar die eerste keer gekry het, was Liané baie opgewonde en niemand mag aan haar hond gevat het nie. Ek is ook baie bly dat sy nou weer terug is by ons. Wanneer my dogter se suiker te laag daal, kom maak Diva my wakker, en dit gee my ook gemoedsrus dat ons ’n ekstra helper vir Liané het.”

Bianca vertel ook hoe onherroeplik hul lewe verander het toe die siekte by Liané gediagnoseer is.

“Ons moes ons hele lewe verander. Dit was baie rof aan die begin, maar dinge gaan nou beter. Ek is ook nie meer so streng met haar nie en sal haar gee waarvoor sy vra, maar ook nie elke dag nie. Dinge gaan baie beter en Liané is ’n tipiese vyfjarige kind wat soms teen die prikkels skop oor insulieninspuitings en etes, maar ons gaan aan.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article