Toe ons in matriek was, het die Wes-Kaapse Onderwysdepartement dit goedgedink om George Louw se boek ’n Skip is ons beloof as dramateks voor te skryf.
Dit is die verhaal oor ’n bandietskip, die Neptune, wat in Tafelbaai anker gooi met die doel om die gevangenes af te laai en die Kaap ’n strafkolonie te maak. Maar weens allerlei teenstand van mense op land word die skip verhoed om sy ongewenste vrag af te laai. Later begin die bandiete honger ly, want niemand wil hulle hier hê óf aan hulle voorraad verskaf nie. Maar uiteindelik stem ’n boer tog in om hulle kos te gee, maar dan weier die gemeenskap om sy kind enige mediese sorg te bied.
Ons Afrikaans-onderwyser het toe gemeen die skip kan ook simbolies wees van die dood wat vir elkeen van ons bestem is. So is ’n skip dan onvermydelik vir elke mens beloof.
En in Afrikaans het ons die idioom “die dag as my skip inkom”, menende wanneer onverwagte geluk my skielik tref.
Dit het alles by my opgekom toe ek onlangs ’n roudiens bygewoon het. Die skip kan vir elkeen simbolies iets anders beteken.
Hier was ons in die ouetehuis se saaltjie byeen om van my vriend en kollega se ma afskeid te neem. Onvermydelik het die trane gevloei, want ons sal haar mis, al gun ons haar die rus. Maar wat my aan die hart gegryp het, was toe ’n vrolike singery meteens uit die saaltjie reg langsaan opgeklink het waar ’n oom sy 95ste verjaardag gevier het. Ek meen, hier het ons bedroefdes gesing “Bly by my Heer terwyl die skadu’s daal”, en hier langsaan hoor ons “Lank sal hy lewe” en “Veels geluk liewe maatjie”.
Ja, die ironie van die lewe darem. Wat my weer laat dink het aan die fliek The unbearable lightness of being van 1988. Hoe sou ’n mens dit in Afrikaans vertaal? Die ondraaglike vlugtigheid van die lewe, dalk? Of die onbeduidendheid daarvan?
Want ons almal weet – vandag is jy hier en hou jy dalk nog partytjie, maar môre het jou skip jou kom haal na streke wat vir die mens nog ongekaart is. En dit is die las wat ons dra: dat hierdie lewe juis so vlugtig, so vlietend is, en enige tyd kan eindig.
Om te lewe, is lig, soos ’n kersie wat enige tyd deur die wind uitgeblaas kan word. Maar terwyl ons nou nog hier is, moet ons die beste daarvan maak. Sonder om soetsappig of pedanties te klink, lyk dit my daar is maar ’n baie fyn lyn tussen lewe of dood.
Maar ons kan kies hoe ons wil hê mense moet ons onthou – goed, of dalk nie so goed nie. Van tannie Susan wat ons gegroet het onthou ek net goeie dinge. Regdeur haar pyn was sy altyd vriendelik.
Eintlik, as ’n mens mooi daaraan dink, kan ons wel van ’n mens afskeid neem, maar hulle lewe in ons gedagtes voort, en só beskou is hulle nie dood nie, miskien net effens ver.




