“Ek dink nie ek was altyd bewus van my omstandighede nie, want dit het gevoel asof ek alles het wat ek nodig gehad het. My ma was daar, my pa, my sustertjie en my broer voordat hy ons verlaat het, maar iets wat belangriker was – ons het liefde gehad. Liefde oorwin regtig alles,” vertel Mario Marinus.
Marinus (25) het in die Roodewal-woonstelle grootgeword en streef daarna om daagliks ’n positiewe rolmodel vir die jeug van Roodewal te wees.
Hy is ’n onderwyser by Hexvallei Sekondêre Skool in De Doorns en is doelgerig daarop om skoolleerders te inspireer.
“Jongmense onderskat die krag wat in ons gees lê. Ek sien dit elke dag in die dinge wat ons jongmense doen.”
Marinus is van mening dat baie skoolleerders hulp nodig het – veral rolmodelle om na op te kyk vir die regte redes, en onderwysers wat hulle lief het, want dit is ’n faktor wat hulle nie aldag by die huis kry nie.
“Ons kinders raak groot in omstandighede waarvoor hulle nie gevra het nie. Hulle sien goed wat hulle nie moet sien nie. Karakters word beskadig. Soms hoor hulle die snaaksste goed. Soms dra hulle laste wat deur hul ouers veroorsaak word. Dit is hartseer, maar steeds lê die wil by hulself, en die meeste van die tyd besef hulle dit net nie.”
Marinus sê jy nie hoef nie verder as die skole te kyk nie. Hy vertel ’n ervare onderwyser by die skool het altyd vir hom gesê sy is nie opgelei om met vandag se kind te werk nie, want die dissipline is nie meer daar soos wat dit destyds was nie.
“Dit laat my met die vraag – waar het dit skeefgeloop? Ek dink daar is verskeie faktore wat hiertoe bydra, maar ten einde sal jy die bal altyd in jou hande lê. Jong mense moet verstaan dit is hul eie lewens en hulle bepaal watter voorbeeld hulle vir hulle kinders gaan stel.
“Gaan jy ’n pa wees wat tik saam met jou seun gaan rook, of gaan jy ’n pa wees vir wie jou seun gaan kom vertel hoe sy dag was? Jy is verantwoordelik vir jou eie lewe.”





