Die Worcesteriet Diana Ferrus pronk met haar KykNET-fiësta-eerbewys.Foto: Facebook


Die skrywer, digter, aktivis en Worcesteriet dr. Diana Ferrus is vanjaar by die 13de KykNET-fiëstas vir haar lewensbydrae tot die kunste vereer.

Ferrus is op 9 Maart in Kaapstad met hierdie besondere prestasie vereer.

Ferrus, ’n boorling van Worcester, het in 1972 gematrikuleer en is na die Universiteit van Wes-Kaapland, maar politieke onrus het haar studies onderbreek en as gevolg van finansiële beperkings het sy gaan werk. In 1988 het sy weer deeltyds begin studeer en 1991 by UWK by die departement van bedryfsielkunde begin werk.

Sy het haar graad twee jaar later behaal en ook ’n honneursgraad in vroue- en genderstudies in 1997 voltooi. Die Universiteit Stellenbosch het ’n ere-doktorsgraad in 2022 aan haar toegeken.

Ferrus het op veertien begin gedigte skryf en haar gedig “I’ve come to take you home”, wat sy geskryf het terwyl sy in 1998 aan die Utrecht Universiteit in Nederland studeer het, was een van die deurslaggewende redes waarom Saartjie Baartman se oorskot ná 192 jaar in Frankryk na Suid-Afrika teruggestuur is.

Haar gedigte en kortverhale is in verskeie bundels gepubliseer, en sy is onder meer ’n stigterslid van die Afrikaanse Skrywersvereniging, Bush Poets en Mengelmoes Digters. Sy is ook in 2020 deur die SBA in haar geboortedorp vir haar bydrae tot die bemagtiging van Afrikaans vereer. Sy het in 2016 afgetree, maar fasiliteer steeds skryfwerksessies en tree as spreker op.

Dawid Minaar, Cintaine Schutte, Lynelle Kenned, Irshaad Ally en Nicola Hanekom het die eerbewyse vanjaar oorhandig.

Ferrus het op haar beurt gesê sy is “vreeslik dankbaar” vir die verering en het melding gemaak van die mense wat al op haar pad gekom en haar geïnspireer het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article