Dialisedienste by die B. Braun Avitum Renal-sorgsentrum in Worcester moes verlede Woensdag (7 Augustus) vir ure opgeskort word nadat ’n munisipale waterpyp die vorige aand reeds gebars het.
Claudia Haarhoff, die sentrum se woordvoerder, sê die onverwagse voorval het die opskorting van dialisedienste vir alle pasiënte vereis, aangesien die sentrum se hemodialise-masjiene ’n bestendige en betroubare watertoevoer benodig om veilig te werk.
Sy sê in reaksie op hierdie krisis het die sentrum sy goedgekeurde waterkrisisplan geïmplementeer, maar die munisipale tekorte het egter ’n beduidende uitwerking op die sentrum se infrastruktuur gehad, wat personeel genoop het om ’n versigtige benadering te volg om die veiligheid van pasiënte te verseker.
Die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) het bevestig ’n gebarste waterpyp het dienslewering by die B. Braun Avitum Renal-sorgsentrum beïnvloed het.
Hannelie Botha, ’n munisipale woordvoerder, sê die munisipaliteit het Dinsdagaand 6 Augustus omstreeks 22:15 verneem van ’n waterpyp wat gebars het.
“Die diensondersteuningsentrum het die diensfout aangeteken en dit aan die waterdienstegnikus op bystanddiens toegewys.
“By kennisgewing van die diensfout het die waterdienstetegnikus onmiddellik op die diensfout gereageer (volgens die standaard- bedryfsprosedure en diensstandaarde met betrekking tot waterpypbarse).
“Die tegnikus het by die terrein aangekom en die watertoevoer gesluit.”
Botha sê die B. Braun Avitum Renal-sorgsentrum se versoek om bystand om hul noodwatertenks (5 000 l) is via ’n alternatiewe watertoevoer deur BVM se brandweerhoof aan te vul, verwerk.
Volgens haar het die aard en konteks van die versoek die brandweerhoof genoodsaak om die eenheid te betrek om onder meer die gehaltevereistes van die water te bepaal, gepaardgaande risikofaktore te oorweeg waaraan die eenheid en die munisipaliteit blootgestel kan word as gevolg van die alternatiewe toevoer, bespreking van aflewerings-meganismes, en die uitvoering daarvan op ’n operasioneel toelaatbare en voldoenende wyse te verseker.
“Ná behoorlike oorweging van hierdie faktore en tevredenheid dat die toelaatbaarheids- en voldoeningsoorwegings in orde was, het die brandweerhoof die voorsiening van alternatiewe water via ’n 600-liter-gly-eenheid gemagtig.
Die 5 000-l-tenk is omstreeks 11:00 (Woensdag 7 Augustus) gevul.
“Daarom is dit ’n feit dat hierdie prosedurele oorwegings bygedra het tot die vertraging in onmiddellike verskaffing.
“Hierdie oorwegings was egter nodig om die operasionele toelaatbaarheid en voldoening van die alternatiewe voorsiening te verseker en om potensiële risikofaktore wat hierdie aksie kan veroorsaak, te versag.”
Botha sê die waterdienstespan het om 08:23 op Woensdag 7 Augustus met die herstel van die gebarste waterpyp begin.
Volgens haar is die watertoevoer omstreeks 13:00 dieselfde dag herstel. Botha sê kennis moet geneem word dat pype wat bars en die daaropvolgende herstelwerk daarvan, verskil wat betref kompleksiteit gegewe die aard van die voorval.
Volgens haar moet pype ook voorberei word (om oortollige lug uit die stelsel te verwyder) voordat volle druk herstel word.
Die B. Braun Avitum Renal-sorgsentrum bedank die brandweerdiens en al die werkers en maatskappye wat gehelp het om die watertoevoer na die sentrum te herstel.
“Ons wil ook ons opregte dank uitspreek teenoor ons pasiënte vir hul begrip en geduld tydens hierdie uitdagende situasie. Ons waardeer hul samewerking.”



