Hoewel die rugby-seisoen binnekort tot ’n einde kom, word groot derby-aksie hierdie naweek verwag.

Young Hamiltons en Worcester Villagers sê mekaar Saterdag (17 September) die stryd op die rugbyveld in hul derde derby-stryd vir die jaar aan.

Dié derby is deel van die Breë Langeberg-streek se geskeduleerde ligawedstryde en die kragmeting is by die Esselenpark-stadion. Toeskouers van heinde en ver word verwag.

Young Hamiltons het in die vorige twee kragmetings oor Worcester koning gekraai en hulle is gewis daarop uit om die naweek se wedstryd ook in die sak te druk.

Aangesien Young Hamiltons tans vierde op die puntelys is en Worcester Villagers kort op hul hakke in die vyfde plek is, beteken die wedstryd baie vir al twee spanne.

Die wedstryd skop om 16:00 af, maar die hekke open reeds om 10:00 vir kaartjieverkope.

Toegang kos R20 vir volwassenes, R10 vir leerders en R10 vir motors, en kan ook by die twee klubs gekoop word.. Besoek die onderskeie klubs se Facebook-bladsye of kontak die volgende mense vir nog inligting of voorafverkoopte kaartjies: Rhoda Joseph, Avianpark; Mariaan Cupido, Esselenpark; Japie Visser, Roodewal; James Capes, Hexpark; en Avril Boer, Victoriapark.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article