Daar word voortdurend gekla oor hoe stadig die ry by die departement van indiensneming en arbeid se kantore beweeg. Foto: Tamsyn Jantjies


Inwoners kla steeds oor lang rye en ’n gebrek aan diens by die plaaslike departement van indiensneming en arbeid.

Die voortdurende misnoeë van die gemeenskap is oor mense soggens vroeg in die lang ry gaan sit of staan in die hoop dat hulle gehelp sal word voor die kantoor vir die dag sluit.

“Mense gaan sit al in die oggend 05:00 in die ry. Daar is nie eens toilette beskikbaar vir hulle om te gebruik nie en die kanse is baie skraal dat almal in die ry gehelp sal word. Daar werk nie genoeg mense om ons vinnig genoeg te help nie,” vertel een so ’n ontstelde gemeenskapslid.

Sy voeg by dat dit vir party mense ’n groot uitgawe is om na Worcester se kantoor te kom omdat hulle met openbare vervoer van ander dorpe moet reis.

“Die mense wat vir betaling uit hul werkloosheidsversekeringsfonds (UIF) aansoek doen, en wat reeds nie geld het nie, moet baie betaal om met die taxi’s na die kantoor toe te gaan. En dis glad nie goedkoop as jy van omliggende dorpe en gebiede kom nie.”

Nog ’n punt wat mense ook erg kwel, is dat die kantoor glo toemaak wanneer daar beurtkrag om 14:00 is.

“Die kantoor het nie ees ’n kragopwekker nie, so diegene wat heeldag in die lyn sit se hoop om gehelp te word is daarmee heen wanneer die krag om 14:00 afgaan as gevolg van die beurtkrag. Boonop moet ’n mens gereeld ook hoor hul stelsel is van lyn af. Dis ’n eindelose nagmerrie.”

Sy sê hierdie departement se manier van werk gaan haar verstand te bowe.

“Ek verstaan nie hoe hulle mense dag ná dag en maand ná maand op en af kan stuur vir dokumente nie. Dan is dit nie reg ingevul nie, dan is daar sommer weke later ’n dokument wat kort. Hoekom kan alles nie op mense se eerste besoek reg verduidelik word nie? Hoekom kan hulle nie vir ons voorbeelde gee van wat ons alles moet hê en saambring en hoe om goed in te vul nie? Nou moet die mense van ver nog meer geld uitgee om net hul bietjie geld wat hul toekom te kry. En mense moet elke keer net weer van voor af in daai elle lange rye gaan sit.”

Sy voel ook sterk daaroor dat daar meer moeite gedoen moet word om mense in te lig dat hulle aanlyn vir hul werkloosheidsversekeringsgeld aansoek kan doen.

“Party mense wag ses maande tot ’n jaar om hul geld te kry. Met die aanlyn stelsel, uFiling, kan mense aanlyn alles doen wat gedoen moet word en die proses gaan soveel vinniger en hul aansoeke word blitsvinnig goedgekeur en hulle kry gouer hul geld.”

Mapula Tloubatla, provinsiale kommunikasiebeampte van die departement van indiensneming en arbeid, sê daar is 40 personeellede om die Worcester-streek te bedien.

“Die Worcester-kantoor, insluitend sy satellietkantore, het ’n totale diensstaat van 40 personeellede versprei oor die Worcester-streek wat aan die werkloosheidsversekeringsfonds, vergoedingsfonds, openbare indiensnemingsdienste en inspeksie- en handhawingsdienste werk.”

Tloubatla verduidelik ook dat die departement altyd daarna strewe om al sy kliënte wat hul kantore besoek te help.

“Maar beurtkrag onderbreek ongelukkig die normale verwerking van aansoeke en ons kantore het nie kragopwekkers nie.”

Gevra oor hoekom sitplek nie beskikbaar gestel word vir die mense wat buite die kantoor in ’n ry sit nie, sê sy: “Die rye buite word deur die loop van die dag deur ’n beampte bestuur. Die kantoor het ’n wagplek om kliënte te akkommodeer asook die oorloop.

“Daar word ook voorkeur gegee aan bejaardes en die moeders wat kom aansoek doen vir kraamvoordele saam met hul kinders, sowel as mense met gestremdhede,” verduidelik Tloubatla.

Verder se sy daar word daagliks met kliënte gekommunikeer oor die aanlyn liasseer-opsie (uFiling). Volgens haar word kliënte in die oggend en deur die loop van die dag van hierdie opsie vertel.

“Die departement hou regdeur die jaar sessies reg oor die provinsie om inligting oor te dra, mense op te voed en bewustheid te skep oor die prosesse van u-liassering aan al sy belanghebbendes.”

Met Standard se besoek by die kantoor vroeër die week, om 10:38, was die ry buite die gebou nie baie lank nie en volgens verskeie mense het dit vinnig beweeg.

“Ons het vanoggend net ná 07:00 in die ry kom staan. Die mense wat natuurlik vroeër hier was, is al klaar gehelp. Die ry beweeg nie so stadig nie,” het een van die mense voor in die ry gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article