DIe pragtige vlambome blom weer in De la Batweg in Worcester.Foto: Lise Beyers

Credit: SYSTEM

Een van baie van wyk 7 se inwoners se gunstelingtye van die jaar is wanneer De la Batweg se vlambome weer begin blom – soos hulle tans weer vol in die blom staan.

Hierdie pragtige ry vlambome is seker een van die mees opvallende landmerke van wyk 7.

Tesame met Paglande se pragtige boomryke lanings en The Pines in Kerkstraat se twee majestueuse Norfolk Pine-bome, die akkerbome in Kerkstraat en De la Batweg se vlambome, is ons in wyk 7 geseënd met wat sekerlik die ganse Breedevallei se boomrykste wyk is.

Baie inwoners vra onder mekaar of die ander weer gesien het hoe mooi blom hierdie laning bome en wat hierdie soort bome genoem word.

Boomnaam

Hierdie bome het drie soorte name – vlambome, fakkelbome of die Afrika-tulpbome.

Oorsprong

Dié bome is tropiese plante en kom oorspronklik in die tropiese reënwoude van Afrika voor, dus is dit vreemd dat hulle so goed in De la Batweg aard.

Hierdie bome kom voor in ’n strook wat van Oos-Afrika tot Wes-Afrika strek en kom ook in Ethiopië, Sudan, Uganda, Kenia, Tanzanië, Zambië, Angola en Ghana voor.

Nektarryk

Die blommetjies is ampulevormig en bevat baie nektar. Stout kinders pluk partykeer die blommetjies en gebruik dit as klein “waterpistooltjies” om mekaar mee nat te spuit.

Die sap van die blom maak geel merke op ’n mens se vingers as jy daaraan vat en vlek jou klere maklik.

Suikerbekkies is veral mal oor hierdie blomme se nektar.

Natuurlike vyande

In Uganda kom twee soorte termiete en ’n baskewer voor, wat hierdie bome aanval en laat vrek, maar hulle is gelukkig nie in Suid-Afrika nie.

Gebruik

Dié bome se hout is te swak vir konstruksiegebruik, maar die hout word in Afrika vir die bou van palette en tandestokkies gebruik.

Natuurskoon

Ek wou sommer net graag hierdie interessante inligting met julle deel sodat ons meer bewus van die pragtige natuurskoon in ons omgewing kan wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article