Zoë Meyer spog met haar toekenningsertifikaat as die leerder met die beste gemiddelde in Gebaretaal in die 2022-matriekeksamen.


Die De La Bat-skool in Worcester is ’n bekende skool in die Boland, maar wat dit vanjaar méér bekend gemaak het, is dat Zoë Meyer, ’n gewese gr. 12-leerder aan dié skool, tydens die 2022-matriekeksamen die hoogste persentasie vir Suid-Afrikaanse Gebaretaal behaal het.

Volgens Zoë se ma, Zalia Muller, is meningitis op agt maande by haar dogter gediagnoseer, wat daartoe gelei het dat sy haar gehoor verloor het.

Zoë en haar gesin woon in Klein Drakenstein in die Paarl, maar sy is van graad een af ’n koshuisinwoner en leerder aan die De La Bat-skool, waar sy geleer het om selfstandig en gedissiplineerd te wees totdat sy naweke en vir skoolvakansies kon terugkeer huis toe.

Met die R6 000-prysgeld wat Zoë by die Wes-Kaapse departement van onderwys se prysuitdeling vir haar toegewyde ure voor die boeke ontvang het, beplan sy om ’n skootrekenaar te koop, wat haar studies in sakebestuur aan die Boland-kollege sal makliker maak.

Zalia het verduidelik haar dogter het reeds op ’n vroeë ouderdom ’n liefde vir die akademie gekweek en wiskunde is ’n definitiewe gunsteling vir haar.

Zoë motiveer ander dowe leerders deur te beklemtoon hulle moet genoeg leer en hulle sal dan die vrugte daarvan pluk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article