De Kruine Sekondêre Skool in Touwsrivier het vroeër vanjaar deurgeloop onder kritiek nadat die skool versuim het om onderwysers in spesifieke vakke aan te stel.
Volgens ’n vorige berig van Standard wat 27 Februarie op Netwerk24 verskyn het, was daar geen teken van onderwysers vir natuurwetenskappe (gr. 8 en 9), lewenswetenskappe (gr. 10 tot 12) en fisiese wetenskappe (gr. 12) toe die skool sy deure heropen het vir die 2023-skooljaar nie.
In die vorige berig in Standard is gesê dat die skool se beheerliggaam nie tot ’n besluit kon kom oor die aanstellings nie, en as sodanig het die poste leeg gebly, en die skool se leerders het tot en met Maart sonder dié opvoeders gesit.
Standard het intussen na die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) uitgereik om te hoor wat die huidige stand van sake is, en bevestiging ontvang dat daar wel onderwysers aangestel is vanaf Maart vir al die vakante wetenskapposte, en leerders hul studie in dié vakke sal kan voortsit.
Volgens Millicent Merton, ’n woordvoerder van die WKOD, sal die waarnemende skoolhoof, Michelle Fredericks, ook van 1 Julie permanent aangestel word.
Die vorige artikel het ook berig dat die WKOD stappe teen die beheerliggaam sal doen wat nie vinnig genoeg die onderwysers aangestel het nie, maar by navraag hieroor het die departement verduidelik dat die vorige beheerliggaam deur Fredericks ontbind is.
Regstappe is dus nie geneem nie, en tans beskik die skool oor geen permanente beheerliggaam nie.
Standard het ook uitgereik na ’n ouer wat anoniem wil bly om viktimisering van sy kind te voorkom. Die ouer het bevestig dat daar wel onderwysers aangestel is, maar sê dat daar geen verbetering in dienslewering by die skool is nie.
“Ouers word steeds nie ingelig oor die skool se besluite nie,” meen die ouer en sê voorts daar is ouers wat nie gelukkig is met Fredericks se bestuur nie.




