“Magmudh is deel van De Jagers se DNS.”
Só het Andries de Jager, die eienaar van die De Jagers, die oorlede Magmudh Valley (69) in ’n onderhoud met Standard beskryf.
Valley, ’n legendariese inwoner van Worcester, is verlede Sondag (12 Maart) oorlede nadat hy ’n hartaanval gehad het terwyl hy aan die Kaapstad-fietstoer deelgeneem het.
Die De Jagers-familie, waar Magmudh vir jare lank ’n integrale rol gespeel het, is steeds baie hartseer nadat hulle hierdie skoknuus ontvang het.
Magmudh is gereeld in die strate van Worcester op sy fiets gesien. Hy was ’n kranige fietsryer wat oor die jare aan talle fietsrenne deelgeneem het en was ’n bekende in die fietsry-geledere van die vallei.
Magmudh was ook baie bekend in Worcester omdat hy 47 jaar vir die bekende De Jagers gewerk het. Hy het reeds by De Jagers begin werk toe die groep sy eerste winkel in Riebeeckstraat geopen het.
Volgens Andries het Magmudh as ’n kaartjieskrywer by De Jagers begin toe pryskaartjies nog met die hand geskryf moes word – lank voordat drukkers beskikbaar was.
Van daar af het hy die korporatiewe leer geklim tot stoorbestuurder, waar hy tot sy aftrede in 2018 gewerk het.
De Jagers se eerste eienaar, Japie de Jager, het dié geliefde werknemer reeds in 1971 aangestel. Japie het Magmudh dadelik weens sy goeie werksetiek aangestel.
Van die begin tot sy aftrede het Magmudh nooit teleurgestel nie, sê Andries, en hy was net een keer met siekverlof toe hy breinvliesontsteking gehad het.
Andries, sowel as Jaco du Toit, De Jagers se boekhouer, het hul gewese kollega beskryf as “hardwerkend, stiptelik en betroubaar”.
Hy het ’n sukses gemaak van alles wat hy aangepak het. Hy was stil en rustig, maar sy kollegas het geweet hy is ’n leier. Hy het nie respek geëis nie, maar eerder ’n voorbeeld gestel wat ander gevolg het,” sê Jaco, wat 25 jaar lank ’n pad saam met Magmudh gestap het.
Mister Vallie, soos hy onder sy werkgewers en kollegas bekend gestaan het, het die onderneming help groei tot wat dit vandag is. Volgens Andries is Magmudh nie net gesien as werknemer nie, maar eerder as deel van die bestuurspan.
Jaco sê wat hom altyd van Magmudh sal bybly, is die feit dat hy gereeld ná sy aftrede by die De Jagers-span ingeloer het en sy kollegas oor ’n koppie koffie kom groet het.
Sherwen Cupido en Wesley Sacco, wat in De Jagers se stoor werk en lank saam met Magmudh gewerk het, het gesê hulle albei het verskillende werkswyses by hul kollega geleer, wat hul tot vandag nog toepas en wat hul werknemers op hul beurt by hulle aangeleer het.
“Hy [Magmudh] het ’n sagte hart gehad, en as jy jou job reg gedoen het, het jy diep in sy hart gekruip,” vertel Sherwen.
Volgens Andries was die stoor onder Magmudh se leding ook atlyd “pynlik netjies”.
De Jagers se huidige eienaar het ook bygevoeg dat hy, en die res van sy gesin hul oud-kollega, en familievriend se kuiertjies by die werk, asook by hul huis sal mis, en dat Mister Vallie verewig deur hulle sal onthou word.




