’n Groep vroue het Donderdagoggend voor die hof bymekaar gekom om teen die borg van ’n verkragting verdagte te betoog, asook die polisie se traagheid in die arrestasie van die verdagte. Foto: Tamsyn Jantjies


Die verdagte in die wydverspreide video waarin ’n vrou vermoedelik verkrag word, is Woensdag in hegtenis geneem.

Sersant Wesley Twigg, ’n woordvoerder vir die provinsiale polisie het dit aan Standard & Gazette bevestig. Hy het Donderdag (29 Februarie) in die hof op Worcester verskyn.

Die voorval het in die vroeë oggendure van Sondag 18 Februarie voor die Jakies Inn kuierplek in De Doorns se GG Kamp plaasgevind.

Omtrent 30 vroue verbonde aan die Women on Farms-projek het die oggend voor die hof bymekaar gekom en teen borg protesteer.

“Ons het meer as 150 handtekeninge op ’n petisie ingesamel,” verduidelik Lenishia Frank van Women on Farms.

Sy verduidelik ook verder dat hulle deur die loop van week self die saak onder die aandag van die Wes-Kaapse polisiekommissaris, lt, gen. Thembisile Patekile gebring.

“Ons moes dit eskaleer. ’n Kaptein van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) het vir my gesê daar is geen duidelik penetrasie wat in die video plaasvind nie, dis hoekom daar nie ’n verkragting saak gemaak kan word.

“Hy het ook gesê die feit dat die slagoffer onbewusteloos was ten tyde die voorval, die saak nog moeiliker maak,” het ontstoke Frank Donderdagoggend voor die hofgebou aan Standard & Gazette gesê.

Frank sê verder dat alhoewel die verdagte wat in die video gesien kan word wel in hegtenis geneem was, moet die persoon wat die video-opname gemaak het, ook in hegtenis geneem word.

“Die man wat die video gemaak het moet ook arresteer word en die mense wat die video versprei het moet ook verklarings aflê. Die video was glad op Facebook ook gedeel. Selfs die verkeersbeamptes wat ons toevallig op pad hof toe afgetrek het, het geweet dis dié saak waarvoor ons op pad hof toe was.”

Sy se ook verder dat die polisie die slagoffer soos ’n verdagte behandel.

“Hulle het haar foon geneem, asof sy self ’n verdagte is en hulle het dit nou nog. Hulle het nie eers die verdagte se naam en van reggekry nie.

“Hulle weet nou nog nie wat die slagoffer se adres is nie – hulle vra al die goed vir my. Hoekom kan hulle nie hul werk reg doen nie? Almal kan sien wat in daai video gebeur het.”

Volgens ’n onkreukbare bron met kennis van die saak, was die verdagte se saak die eerste saak wat in die hof gehoor was. Die bron verduidelik ook dat die verdagte in aanhouding sal bly tot sy borg inligting beskikbaar is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article