Die Primrose-rugbyklub het Saterdag (10 Junie) in De Doorns in ’n taai wedstryd teen De Doorns United vasgeval.
’n Wedstryd wat vol hoogtepunte was, het die skare kort-kort op hul voete gehad.
Albei spanne het die bal lekker lug gegee en prag-rugby was aan die orde van die dag. Veral die voorspelers van al twee spanne het mekaar behoorlik die stryd aangesê.
Hoewel Primrose rustyd 22-11 voor was, het De Doorns nooit gaan lê nie en gereeld aanvalle weggestuur, wat vrugte afgewerp het. Hulle het die agterstand stadig maar seker uitgewis en op een tydstip was die telling gelykop (22 punte elk).
Primrose daarenteen kon in die tweede helfte net drie punte aanteken, terwyl De Doorns sy kanse goed benut en sy voorsprong na 27 punte vergroot het teenoor 25 vir Primrose. Weer eens was hantering van foute en verkeerde besluite aan Primrose se kant aan die orde van die dag. Die eindtelling was De Doorns 27 en Primrose 25.
Dié wedstryd het Primrose se eersterondedeelname afgesluit.


