Die Wynlandse DBV in Ashton waarsku inwoners dat hulle die afgelope week ’n toename in katgriep-gevalle by honde gesien het.
Hulle het troeteldier-eienaars gevra om hul honde – veral klein hondjies – mooi dop te hou en seker te maak dat hul inentings van die ouderdom van ses weke op datum is.
Katgriep is ’n dodelike siekte. Die simptome sluit in ’n verlies aan eetlus, naarheid en braking, diarree, maagkrampe, hoes en moegheid by honde. Die naam is misleidend aangesien die siekte nie deur katte gekry of oorgedra word nie.
Hoe gouer ’n hond behandel word, hoe groter is sy kanse op oorlewing. Die DBV het inwoners aangeraai om nie hul honde melk of soutoplossings te gee nie, omdat dit kan bydra tot ontwatering. . Die DBV het inwoners herinner dat mense met ’n inkomste van minder as R20 000 per huishouding vir die welsynkliniek kwalifiseer.
Afsprake kan gemaak word deur 023 615 2241 te skakel. Die welsynkliniek is oop op Maandae tot Vrydae van 08:30 tot 13:00 en van 13:30 tot 16:00.



