Die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) in Worcester vier op 15 Junie 141 jaar diens aan Dowes en mense met gehoorverlies. Ons vier behoorlik fees! ’n Fees van groot dankbaarheid!

By NID glo ons in konneksie en gemeenskap, en dat ons Dowes en mense met gehoorverlies kan ondersteun en help om kommunikasiehindernisse af te breek sodat hulle ook hul volle potensiaal kan bereik en ’n voorspoedige lewe kan lei.

Ons is passievol gedryf om te verseker dat Dowes dieselfde geleenthede in die lewe as enigiemand anders kry. Ons glo heelhartig dat die Dowe gemeenskap en mense met gehoorverlies met genoegsame ondersteuning, liefde en geduld werklik bemagtig kan voel. Op hierdie wyse kon ons duisende lewens verander oor die 141 jaar wat ons operasioneel is.

By NID Volwassesorg bied ons ’n holistiese, terapeutiese en veilige omgewing wat die unieke behoeftes van meervoudig gestremde dowe volwassenes ondersteun. Hier kan elke inwoner floreer binne ’n vreedsame en doof-vriendelike gemeenskap. Terapeutiese aktiwiteite en ontwikkelingsprogramme bevorder selfvertroue en individuele groei onder ons inwoners.

NID Bejaardesorg sien om na bejaarde dowes wat residensiële sorg benodig in ’n doof-vriendelike omgewing. Toegewyde personeel versorg en ondersteun hulle daagliks in ’n liefdevolle, huislike atmosfeer wat ook in hul unieke kommunikasiebehoeftes voorsien.

Die NID Gebaretaalsentrum bedien die Dowe en die horende gemeenskappe deur inhoud te ontwikkel, en deur navorsing in Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) te doen. Die doel van hierdie departement is om die lewe van dowe Suid-Afrikaners te verbeter deur hulpbronne te skep vir enigiemand om SAGT te kan leer.

Binne hierdie drie afdelings van die NID word lewensveranderende werk verrig. Ons 141 jaar-mylpaal en dié dienste wat ons lewer sou egter nie moontlik wees sonder die ondersteuning van mense nie. As nie-winsgewende organisasie is ons dankbaar vir elke bydrae wat ons ontvang. Dankbaar vir elke omgee-hart wat deur kosbare ondersteuning vir ons die lig in ons werksaamhede helder laat skyn. Dankbaar vir geloof en vertroue in ons, wat ons daaglikse taak van diensbaarheid aan mense met gehoorverlies so ’n ongelooflike voorreg maak. Ten spyte van vele uitdagings en soms moeilike ekonomiese omstandighede was ons so bevoorreg om steeds ongelooflike wonderwerke te beleef die afgelope 141 jaar. Die Here se groot genade het ons net weer opnuut laat besef dat ’n mens tot alles in staat is ongeag die uitdagings wat oor jou pad kom.

Ons vertrou vir nog vele jare van diens aan Dowes!

Só kan jy help
Deel asseblief saam met NID in ons 141 jaar- feesviering deur ’n spesiale bydrae te stuur ten bate van Dowes en mense met gehoorverlies by NID.
Bankbesonderhede:
Rekeningnaam: NID Ontwikkeling / Bank: Absa Bank / Rekeningnommer: 911 845 2209 / Verw: WS141 (u naam en van). Stuur asseblief bewys na fr.nid@nid.org.za
Namens elke Dowe persoon wat die afgelope 141 jaar gehelp is en nog gehelp sal word, sê ons by voorbaat baie, baie dankie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article