Mandeladag is vandeesweek gevier en wêreldwyd het mense op 18 Julie 67 minute diens gelewer, of ’n bydrae gemaak wat ’n positiewe verskil in iemand se lewe of die gemeenskap maak.

Die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) bedank graag almal wat hul Mandeladag-inisiatief ondersteun het deur middel van skenkings van toiletware aan ons bejaarde en meervoudig gestremde dowe inwoners, die skenking of koop van tweedehandse items by ons Fabulous Finds- liefdadigheidswinkel, finansiële bydraes, asook die koop van pannekoek, koffie en SA Gebaretaal-produkte by ons Mandeladag-stalletjies.

As ’n organisasie sonder winsbejag is ons deurlopend afhanklik van bydraes en ondersteuning uit die gemeenskap om ’n positiewe verskil in die lewe van ons dowe begunstigdes te kan maak. Die NID is so dankbaar vir die publiek wat ons geldinsamelings­geleenthede en projekte soos hierdie met groot vreugde en wonderlike gees ondersteun.

Indien jy egter nie die kans gehad het om die NID op Mandeladag te ondersteun nie en steeds graag betrokke wil raak, is daar verskeie geleenthede en maniere regdeur die jaar om te oorweeg.

Hoe kan jy help?

. Skenk ’n toiletware-pakkie ten bate van ons bejaarde en meervoudig-gestremde dowe inwoners by NID Sorg. Hierdie inwoners benodig daagliks spesiale sorg en verskeie van hulle het nie ondersteuning van enige familie of vriende nie. NID is hul tuiste en moet voorsien in hul mees basiese behoeftes soos kos, toiletware en versorging.

Toiletware is ’n deurlopende behoefte regdeur die jaar en altyd welkom.

Tans is die grootste behoefte ook volwasse doeke (XL). NID Sorg ontvang nou slegs drie doeke per bedlêende per persoon per dag wat ’n geweldige impak op uitgawes het.

. Skenk jou tweedehandse klere, boeke, speelgoed, kombuisware, linne en enige ander huishoudelike goedere aan ons NID Fabulous Finds-liefdadigheidswinkel.

Hierdie goedere word weer teen billike pryse aan die gemeenskap verkoop. Kom snuffel ook vir ’n winskopie. Alle geld uit NID Fabulous Finds-verkope word aangewend vir NID Sorg.

Besoek die winkel op Dinsdae, Woensdae en Donderdae van 09:00-16:00 of die laaste Saterdag van elke maand tussen 09:00 en 13:00.

. NID bied op ’n gereelde basis byeenkomste aan wat die publiek kan bywoon of aan kan deelneem. Dit sluit in markdae / aande, motiveringspraatjies, vroueoggende / aande en pretlope. Volg die NID Market Facebookblad om op hoogte te bly van opkomende gebeure. Jou kaartjie of inskrywing sal ’n verskil maak in die lewe van ons Dowe inwoners.

. Indien jy sou verkies om ’n finansiële bydrae te maak, kan jy ook EFT na ons bankrekening met verwysing MD (jou naam en van). Rekeningnaam: NID Ontwikkeling / Bank: Absa Worcester / Rekeningnommer: 911 845 2209.

. Vir meer inligting oor enige van die bogenoemde projekte, WhatsApp na 071 375 1426 of e-pos na fr.nid@nid.org.za. Baie dankie vir elke oop hand en hart wat ’n verskil maak in die lewe van ons dowes en mense met gehoorverlies by NID.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article