Daniël de Bruin gaan vir drie maande in die befaamde sjef, Jan Hendrik van der Westhuizen, se restaurant in Frankryk werk. Foto:


Daniël de Bruin is in ekstase nadat hy gekies is om by befaamde sjef Jan Hendrik van der Westhuizen se restaurant in Nice, Frankryk, te gaan werk.

Daniël is ’n tweedejaarstudent by die IIE School of Hospitality & Service Management (HSM) waar hy besig is met sy graad in gasvryheid en diensbestuur. Hy gaan van Desember tot Maart by Restaurant Jan in Nice in die Franse Riviera werk.

“Ek kan dit eintlik nie glo nie. Dit was baie onverwags; ek is verskriklik opgewonde,” het hy met verwondering gesê.

Studente van die instituut is ’n rukkie gelede in kennis gestel van die pos wat by die restaurant vir ’n voorhuisbestuurder beskikbaar was.

“Ons almal het vinnig ons CV’s agtermekaargekry en vir die pos aansoek gedoen. Ek het net gedink hier is nou ’n geleentheid, en besluit toe om dit te gryp. Ek dink omtrent 15 ander het ook aansoek gedoen.

Ek het nie eens gedink ek het ’n kans gestaan nie, maar ’n paar weke later het my lektor my laat weet my naam is op die kortlys.”

Daniël was toe een van drie studente op die kortlys en moes ’n “working interview” voltooi.

“ ’n ‘Working interview’ is wanneer hulle kyk hoe jy werk, met ander mense werk en praat en of jy onder druk kan funksioneer. Jy moet vir jou gaste ‘Silver Service’-diens kan lewer – dit is meer as net vyfster-diens.”

Daniël is twee weke ná hierdie unieke onderhoud in kennis gestel hy is die gekose student wat by Jan Hendrik in Frankryk sou aansluit. “Ek het regtig nie gedink ek sou hierdie kans kry nie. Dit is alles te danke aan die Here.”

Daniël se ouers is die eienaars van die Kokerboom-restaurant en hy meen dit het hom op ’n manier beïnvloed om in hierdie bedryf verder te gaan leer.

“Ek het nog voordat my ouers die restaurant geopen het, in hospitality belanggestel, maar ná die opening van die restaurant het dit my net nog meer daarin laat belangstel.

“Ek het besluit ek wil mense ’n onvergeetlike experience gee wanneer hulle na eetplekke toe gaan. Dit is deel van wie ek is. Hospitality is nie net iets wat jy doen nie; dis ’n leefstyl – dis belangrik om te onthou. Dit gaan nie net oor geld maak nie, maar ook oor die ervaring wat jy aan mense bied.”

Hierdie ambisieuse jongman sien daarna uit om baie by Suid-Afrika se eerste Michelin-ster sjef te leer en natuurlik die Franse kultuur in te drink en hom daarin te verlustig.

“Ek sien daarna uit om by Jan Hendrik meer te leer oor hoe om jou eie brand te bou – ek wil nou nie so bekend of op TV wees nie, maar ek wil hê mense moet bewus wees van watter tipe diens hulle van my af sal ontvang. Maar my uiteindelike doel is om eendag self ook ’n lektor te word. Ek wil die kennis en ervaringe wat ek vandag opdoen, eendag met die volgende geslag deel. En natuurlik, terwyl ek in Frankryk is, wil ek so veel as moontlik outentieke Franse dinge ervaar.”. Daniël begin sy avontuur aan die Franse Riviera op 14 Desember.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article