Daniël de Bruin werk nog lekker in Frankryk, maar mis Suid-Afrika “vreeslik”.

Credit: SYSTEM

Die Worcesteriet Daniël de Bruin, wat einde verlede jaar gekies is om vir drie maande by die befaamde sjef Jan Hendrik van der Westhuizen se restaurant in Nice, Frankryk, te gaan werk, vertel hoe dit met hom daar in die verte gaan.

Hy het in Desember in Nice aangekom. Standard het ’n paar vrae gestuur om te hoor hoe dit gaan.

1. Wat was jou eerste reaksie met jou aankoms in Nice?

My eerste reaksie toe ek in Nice aangekom het was “wow – ek is in Nice”! Ek was baie opgewonde; ek was terselfdertyd baie nervous, want dit was ’n ander land en dit was die eerste keer dat ek as volwassene in ’n ander land was. Dit is nogal ’n scary ding om aan te dink.

2. Was dit ’n groot aanpassing om gewoond te raak aan ’n heel nuwe kultuur en leefwyse?

Die grootste aanpassing vir my was dat alles vinnig gebeur. Die dag gaan baie vinnig verby. Jy staan ’n bietjie later op, maar jy gaan baie later slaap. Plekke maak byvoorbeeld eers 10:00 oop, dan sluit hulle eenuur in die oggend. Die dae asook die mense is baie anders. Die mense is baie vriendelik, maar ook baie teruggetrokke. Dis nie soos in Suid-Afrika waar almal almal groet nie. Sodra jy die mense hier leer ken, is hulle egter baie vriendelik.

3. Hoe vind jy dit om in Jan se befaamde restaurant te werk?

Om by Jan te werk, is ook baie anders vir my, want dit is baie anders as om in Suid-Afrika te werk. In Suid-Afrika werk ons baie stadiger en ons fokus baie op gehalte, maar by Restaurant Jan asook ander Franse plekke is dit baie vinnig – steeds gefokus op gehalte, maar hulle hou baie daarvan om met spoed te werk. Ons werk ook op ’n hoër standaard omdat ons nie Michellin-sterre in Suid-Afrika het nie, dus was dit iets om aan gewoond te raak. Maar ek geniet dit baie om saam met die Franse te werk. Ek moes baie vinnig leer hoe om ’n bietjie Frans te praat en te verstaan. Ek kan nou ’n paar goedjies in Frans sê en ’n bietjie met die gaste interaksie hê.

4. Sien jy daarna uit om terug Suid-Afrika toe te kom, of sou jy eerder daar wou aanbly?

Ek sien daarna uit om terug te gaan Suid-Afrika toe. Ek sien daarna uit om alles wat ek geleer het, terug te neem Suid-Afrika toe en my daar te verbeter en aan my eie toekoms in Suid-Afrika te begin werk. Ek stel baie daarin belang om by Grootbos te werk. Dit is een van die mees fascinating hotelle vir my, ek wil so graag vir hulle gaan werk, en hopelik kan ek.

5. Hoe sal jy sê het hierdie ervaring jou siening oor die lewe en jou toekomsplanne beïnvloed?

Die ervaring hier het definitief my siening oor hospitality verander, asook my toekoms in hierdie bedryf. Ek het baie meer besef wat die ure in hierdie bedryf is en hoe ’n mens eintlik gaan werk. Ek sal baie graag in hospitality wil bly, maar ek wil ook meer by hotelbestuur betrokke raak.

6. Wat is die lekkerste deel van jou werk en wat doen jy wanneer jy nie in die restaurant werk nie?

Die lekkerste ding wat ek doen wanneer ons nie werk nie, is om gedurende die naweek uit te gaan na verskillende plekke toe en om verskillende plekke te sien en net ’n lekker dag te geniet. En ook om net lekker etes saam met die studente by ons huis te maak en lekker saam te sit en met ’n lekker bord kos en ’n glas wyn te kuier en oor ons week te gesels en rustig te wees voordat die volgende week begin. Ons hou ook daarvan om te reis. Die lekkerste deel van my werk is om saam met mense te werk en hulle te vertel oor die kos, want elke gereg wat ek uitstuur, moet ek aanbied en die gaste daarvan vertel. Dit is vir my so lekker om mense se reaksies daarop te sien.

7. Wat mis jy die meeste van tuis wees en wat gaan jy die meeste mis van Nice wanneer jy terug huis toe kom?

Ek mis die meeste die oopheid van Suid-Afrika en dat jy orals kan loop en die natuur rondom jou sal wees. Ek mis die Suid-Afrikaanse sonsondergange en ook die feit dat jy met mense Engels kan praat en dat die meeste van die goeters Engels is. Maar ek mis Suid-Afrika meestal omdat ek my familie mis. Ek’s ’n baie groot familiemens en dit is vir my belangrik om naby my familie te wees. Dit is die moeilikste om so ver weg van hulle af te wees. Ek kan nie wag om hulle weer te sien nie. Van Nice gaan ek die meeste die veiligheid en die openbare vervoer mis. ’n Mens , kan na enige plek toe gaan deur net ’n treinkaartjie te koop, on the spot, en net te gaan. Nog iets – net om so tweeuur in die oggend huis toe te stap en steeds veilig te wees; om nie bekommerd te wees dat iets wreeds met my gaan gebeur nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article