Richard Murray (27) se vermeende moordenaar het onlangs in die hof verskyn.

Credit: SYSTEM

Die 22-jarige Juchrist de Lange het verlede week weer in die plaaslike hof verskyn en sal nog in aanhouding bly vir sy beweerde aandeel in die moord op die 27-jarige Richard Murray.

Murray, wie se lyk in Oktober verlede jaar in die Worcester-dam gevind is, is vermoedelik nie weens selfdood oorlede soos oorspronklik bevind is nie.

Twee mans het Woensdag 12 Oktober 2022 omstreeks 08:00 op ’n gruvonds afgekom toe hulle ’n bebloede lyk naby die Worcester-dam gevind het.

Volgens AO Vatishwa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie, het hierdie twee mans glasbottels en skrootmateriaal bymekaar gemaak toe hulle op die lyk afgekom het.

“Sy lyk was bebloed en by verdere ondersoek het ons bevestig inwoners van die Tuindorp-gebied net agter die dam het die man nog die vorige aand met snymerke aan sy gewrigte gewaar. Hy het mense in dié omgewing ingelig dat hy sowat 47 tablette ingeneem het.”

Die polisie het daarop gesinspeel dat hy weens selfdood oorlede is, maar in ’n skokwending is ’n inhegtenisneming ’n paar dae ná die voorval uitgevoer.

Murray se familie is in kennis gestel van sy afsterwe en is ’n paar dae later na Worcester om sy lyk uit te ken. Murray se pa, Stuart, het aan Standard vertel dat hulle vreeslik hartseer is oor hul seun se afsterwe, maar geweet het dit kon nie weens selfdood wees nie.

“Ons seun het op ’n plaas buite die dorp by ’n bekende rehabilitasiesentrum gewerk. Hy is nie baie goed behandel nie en was daardie dag besonder ontsteld. Hy is nie iemand wat sy eie lewe sou neem nie en die merke aan sy lyf was gewis nie deur sy eie toedoen nie – dit was weens die feit dat hy met ’n mes gesteek is en toe vir die dood by die dam gelaat is.”

De Lange, wat weens die moord in hegtenis geneem is, is ’n inwoner van Tuindorp, die gebied waar ooggetuies Murray die laaste keer gewaar het.

Volgens ’n bron na aan Standard blyk dit die merke en snye aan Murray se liggaam was die gevolg van veelvuldige steekwonde. Dit lyk ook asof Murray nie net met ’n mes gesteek is nie, maar ook dalk op plekke met ’n stomp voorwerp, soos ’n skroewedraaier, gewond is.

Dit is egter onbekend aan Standard of die slagoffer en verdagte mekaar enigsins geken het.

Standard is na Tuindorp om meer uit te vind oor die voorval, maar inwoners daar weier om te praat. Een vrou, wat verkies om anoniem te bly, verduidelik sy het gehoor van onderonsies waar­in die verdagte al betrokke geraak en wat gewoonlik gewelddadig geëindig het.

De Lange bly vir eers in aanhouding sodat die saak verder ondersoek kan word. Hy sal op 30 Maart weer in die hof verskyn.

Hy het drie vorige skuldigbevindings weens diefstal.

Dit is egter onseker of die verdagte alleen opgetree het om die beweerde misdaad te pleeg.

Murray se pa wil net hê geregtigheid moet geskied en maak staat op die owerhede om die wet toe te pas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article