Wynand Malan en Chadwin Bailey is die trotse eienaars van die nuwe Cannabis Café in Hoogstraat.


Twee jong entrepreneurs van Worcester wat ’n liefde vir alternatiewe medisyne deel, het hul kragte saamgespan en besluit om die deure van die eerste daggakafee in Worcester te open.

Worcester is nog altyd bekend vir sy uitbundige en skouspelagtige plantegroei, maar hierdie alternatiewe plant, wat jare lank al tot baie omstredenheid gelei het en onlangs wettig verklaar is, sal nou in Hoogstraat gebruik kan word.

Chadwin Bailey en Wynand Malan ken mekaar al ’n geruime tyd en het besluit om ’n kafee op te rig wat die klem en fokus op gesondheid plaas.

“Ons albei gebruik al jare lank kannabis, CBD en verwante produkte, en dit het ons beide se lewens en uitkyk oor die lewe verander. Dit het regtig baie goeie eienskappe en die stigma rondom dagga is iets wat by die dag gebreek word,” vertel hierdie duo aan Standard.

Die mark is tans een wat ontplof, met nuwe geleenthede danksy wette wat voorsiening maak vir dekriminalisering en die president se ondersteuning vir die uitbreiding van hierdie mark tydens sy Staatsrede vanjaar.

“Ons sien uit na alles wat die toekoms inhou en hoop om positiewe verandering in mense se lewe te bewerkstellig.”

Cannabis Café se doel is om inwoners in te lig oor die positiewe eienskappe van kannabis en om gesondheid in die algemeen te bevorder.

“Ons primêre doelwit is op gladdejantjies (smoothies) en vars gedrukte vrugtesap. Hoe meer vitamiene en minerale jy op een slag kan inneem, hoe beter funksioneer jy geestelik en fisiek. Ons wil vir Worcester wys hoe om gesond te leef – dit alles ook gekoppel aan die wonders van kannabis,” voeg Bailey en Malan by.

Dit is wel belangrik om te onderskei tussen CBD (kannabidiol) en THC (tetrahidrokannabinol). CBD bevat al die natuurlike middele wat as medisinaal beskou word, terwyl THC die euforiese en soms hallusionêre gevoel verskaf.

Alhoewel albei (tot ’n mate) in Suid-Afrika wettig is, is dit ’n proses om THC te bekom. Cannabis Café het opsies wat hierdie effek insluit, maar sal slegs aan geregistreerde lede (soos die wet vereis) beskikbaar gestel word.

“Ons wil mense in die dorp opsies bied om hul gesondheid te bevorder, maar ons wil ook mense aan die regte inligting blootstel en die stigma breek. Dit is vir ons belangrik om vir jongmense te wys dat jy jou droom kan uitleef en ’n sukses maak van enigiets wat jy wil bereik.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article