Een van die houers waarin die dagga verpak was. Foto:


Die polisie het Saterdag (18 November) op dagga met ’n geskatte straatwaarde van R7,1 miljoen is op die N1 by Meiringspark beslag gelê.

Volgens AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie, het beamptes inligting ontvang oor ’n groot hoeveelheid dagga wat op die N1 vervoer word.

“Die beamptes het ’n steenkoolkleurige bakkie met ’n sleepwa gesien en voorgekeer. Twee insittendes was in die voertuig. Een van die polisiebeamptes het ’n sterk reuk van dagga bespeur en gevra of hy die voertuig kan deursoek,” verduidelik Jacobs.

Die polisie het vyf groot houers agter op die bakkie en sleepwa gevind.

“Een van die beamptes het die insittendes gevra wat in die houers is. Toe hy dit oopmaak, het hy ’n donkerkleurige vloeistof daarin ontdek. Die beampte was nog nie tevrede nie en het gevra of hy verder kan kyk. Een van die insittendes het vir hom ’n tang en skroewedraaier gegee sodat hy verder deur die houers kon soek. Nadat hy een van die houers, wat verseël was, oopgemaak het, het die reuk van dagga nog sterker geword.”

Die geseëlde pakke dagga is toe ontdek.

Die twee insittendes, ’n 34-jarige en ’n 36-jarige man, is na die Worcester-polisiekantoor geneem.

“Die voertuig, sleepwa en bakkie is met hul aankoms by die polisiekantoor verder gefynkam. Altesaam 745 vakuumverpakte saamgeperste pakke dagga is in die houers gevind, asook 12 kleiner swartsakke wat styf toegemaak was. Die dagga het altesaam 895, 9 kg geweeg.”

Die verdagtes is in hegtenis geneem en van dwelmhandel aangekla.

In ’n mediaverklaring oor die voorval het die provinsiale polisiewoordvoerder, lt.kol. Malcolm Pojie, gesê die ondersoek sal voorts deur die afdeling provinsiale georganiseerde misdaad (narkotika) behartig word.

Volgens Jacobs het die voertuig uit De Doorns se rigting gery toe dit op die N1 voorgekeer is. Dit is in hierdie stadium nog onbekend waar die dagga vandaan kom en waarheen dit op pad was.

Die verdagtes het Maandag 20 November in die hof verskyn. Die saak is egter na ’n hof in die Kaap oorgeplaas (dit is tans onduidelik watter hof).

Die Worcester-polisie het Dinsdag 21 November op ’n groot vrag perlemoen beslag gelê. “Polisiebeamptes het inligting ontvang oor ’n voertuig met ’n moontlike vrag perlemoen wat in die rigting van Worcester ry. Hulle het toe ’n wit Land Rover Discovery om 22:00 voorgekeer. Net die bestuurder was in die voertuig en terwyl een van die polisiebeamptes met die hom praat het, het hy ’n sterk visreuk opgelet en die bestuurder gevra of hy enigiets wou verklaar. Hy het ook gevra of hy die motor kon deursoek.”

Die perlemoen is op die agtersitplek aangetref.

“Die perlemoen was in ’n vullissak. Die polisiebeampte het toe die departement van bosbou, visserye en omgewing gekontak. Die departement het bevestig dat dit perlemoen was. Altesaam 1 389 eenhede met ’n geskatte waarde van R694 500 is afgeneem.”

Die verdagte is in kennis gestel van die klagte teen hom en in hegtenis geneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article