Die twee akteurs in Daar is hoop, Maruwaan Alwyl (links) en Bradley le Roux.


Margaret Swartz, die wykraadslid vir Wyk 10, wat uit Roodewal, Askamp, Bloedrivier en Hexpark bestaan, het ’n projek in samewerking met die Breederivier-munisipaliteit van stapel laat loop om die jeug in dié gebiede ’n boodskap van hoop te gee.

Hierdie ses maande lange projek, wat onder meer ’n toneelstuk insluit, het in Januarie begin en eindig vandeesmaand.

Volgens Swartz is die projek deel van Wyk 10 se veiligheidsplan om bendes, bendegeweld en dwelmmisbruik wat daarmee saamgaan, te verminder.

Die toneelstuk, genaamd Daar is hoop, dra dan die boodskap oor dat daar wel “hoop” is in plekke soos Roodewal indien kinders “die regte pad kies”, wat insluit om gereeld skool toe te gaan en geweld en dwelmgebruik van die hand te wys.

Verder verduidelik die toneelstuk ook indien iemand die pad byster geraak het, daar wel hoop is om terug te keer na die regte pad.

Die twee akteurs wat in die toneelstuk te sien is, Bradley le Roux en Maruwaan Alwyl, is al twee oudleerders van Worcester Senior Sekondêre Skool in Roodewal en het in 2018 gematrikuleer.

Hulle het self die toneelstuk geskryf en beplan.

Volgens Le Roux kom hy en Alwyl uit Roodewal en het hulle die toneelstuk, wat op hul grootwordjare in dié gemeenskap gegrond is, saam geskryf.

Hy het gesê die Breedevallei-munisipaliteit het hulle gekontak nadat hulle toekennings by ’n toneelfees ontvang en dit op sosiale media gedeel het.

“Dit is ’n ware storie wat op ons twee [Bradley en Maruwaan] se lewe as vriende vir 10 jaar gegrond is.”

Dié duo het altesaam agt vertonings by ses skole in Worcester asook een koshuis opgevoer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article