Matrieks van die klas van 2022 van die vallei kou tans hul naels in opwagting vir hul eindeksamen-uitslae, wat volgende week bekend gemaak word.
Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, sal die oorhoofse nasionale matriekuitslae en nasionale toppresteerders op 19 Januarie aankondig.
Millicent Merton, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), sê matrikulante kan hul uitslae Vrydag 20 Januarie om 11:00 by die eksamensentrum waar hulle geskryf het, afhaal.
“Hulle sal ook toegang tot die uitslae op die WKOD-webwerf kan kry. Om toegang te verkry, moet kandidate hul van en identiteitsnommer gebruik. Kandidate kan ook die eksamenhulplyn by 086 181 9919 skakel vir hulp met uitslagverwante navrae.”
Slegs
die uitslae van matrieks wat skriftelik toestemming gegee het dat dit gepubliseer mag word, sal op openbare platforms soos koerante en aanlyn beskikbaar wees.
Elijah Mhlanga, ’n nasionale woordvoerder van die departement van basiese onderwys, het gesê die departement verwerk die toestemmingsvorms wat tydens die eindeksamen onder 2022-matrieks versprei is. “Die vorms is onder so veel as moontlik matrieks versprei, maar elke matrikulant het nie noodwendig een ontvang nie.”
Geen name sal egter gepubliseer word nie – net eksamennommers.. 2022-matrikulante kan die webtuiste wcedonline.westerncape.gov.za/national-senior-certificate-nsc-exams besoek om hul uitslae te sien.




