Dis jolig in Worcester, soos dit net in dié Bolandse dorpie kán – hierdie keer vir die dorp se héél eerste musiekfees, die geesteskind van Oliver Cromwell Everson, of net Cromwell, die eksentrieke musiekonderwyser by die plaaslike seunskool.
Everson het – net nadat hy hom in 1957 in Worcester kom tuismaak het – ’n koorfees in die Biesenbach-saal gereël – ’n eerste vir die dorp.
Dié program het nege kore uit die omliggende gebied ingesluit en hul lof is deur die plaaslike gemeenskap besing, het die akademikus Jeffrey Burkham destyds gesê.
Dit is eintlik moeilik om Cromwell Everson mis te kyk. Sy kenmerkende kep en stewige baard het hom maklik tussen die Bolandse boere laat uitstaan – dít en die duidelik aweregse denkpatroon wat die kop uitsteek wanneer hy ’n gesprek voer, het David Kramer, ’n bekende Suid-Afrikaanse kunstenaar, wat by Everson klas gehad het, gesê.
Shirley Bell het Everson as ’n “eksentrieke, marvelous, ongewone en geweldig begaafde” mens beskryf.
Buiten sy aardige voorkoms en aweregse idees, was Everson ietwat van ’n vreemde gedaante in die plattelandse dorpie aangesien sy geskiedenis hom in hierdie politieke era in ’n moeilike bootjie geplaas het, het Burkham gesê. Met ’n Afrikaner-ma en Engelse pa het hy die middeweg goed geken. Vir Afrikaners het hy soos die Engelse gedink, en vir die Engelse het hy met sy Beaufort-Wes-Karoo-aksent soos die Afrikaners geklink.
Everson word vandag steeds deur akademici geprys vir sy vermoë om ’n gemeenskap deur musiek te verenig – spesifiek klassieke musiek, iets wat nie sommer met ’n plattelandse gemeenskap vereenselwig word nie.
Hy het die Worcester-musiekgroep in 1958 gevorm, met die doelwit om een musiekproduksie per jaar te skep. In hierdie geval het hy nie aan ’n skoolmusiekblyspel of ’n tweede koorfees gedink nie – hy het operas in gedagte gehad.
Só is die eerste plaaslike musiekfees gebore, met ses opvoerings van Mozart se Die Zauberflöte (Die Towerfluit) in 1958. Die produksie het sowat 100 gemeenskapslede gelok – van die tandarts tot dié wat in die motorbedryf werk.
Dit was nie net die gemeenskap wat betrek is nie. Everson se kunstenaarsvrou, Hermine, het hul huis in ’n kunsateljee omgeskep – van die sitkamer tot die slaapkamer was vol Egiptiese hiërogliewe en pilare vir die tempel.
Hoewel hy van kleins af ’n belangstelling in musiek gehad het, is dit hier – agter ’n klavier om ’n gemeenskapsproduksie te delegeer – waar Everson besluit het hy gaan die eerste Afrikaanse opera skryf.
Die sukses van die produksie het hom destyds aangespoor om ’n opera met sy eie libretto te skryf, gegrond op die klassieke Griekse tragedie “Klutaimnestra”.
Hy wou die produksie vir die Uniefeesfiering in 1960 gereed hê, maar het alles wat hy geskryf het iewers in die jaar verwerp omdat dit “musikaal substandaard” was – volgens hom het dit gevoel soos ’n spul “lukrake stukke wat saamgegooi is en onsamehangend was”.
Everson het die Worcester-kamerorkes in 1961 gestig en destyds verskeie oorspronklike stukke, wat sterk invloede van Isreali en Oos-Europese musiek het, geskryf.
Dit het egter in 1963 tot ’n skielike einde gekom toe Everson besluit het om al sy tyd aan sy oorspronklike operastuk te bestee.
Sonder Everson het die Worcester-musiekgroep en die Worcester-kamerorkes erg daaronder gely.
“Klutaimnestra” het uiteindelik in November 1967 die lig gesien. Die Biesanbach-saal was van 7 tot 11 November daardie jaar volgepak met mense wat die aardige produksie wou aanskou – die eerste nie net vir die dorp nie, maar ter wêreld.
Everson het deur “Klutaimnestra” probeer bewys dat Afrikaans tot dieselfde gesofistikeerde musikaliteit in staat is as Europese tale en vergelyk die politieke stryd tussen die Afrikaners en Engelse met die stryd tussen die Griekse Achaeans en Trojans.
Ná die vyf opvoerings van die avant-garde-opera het die Worcester-musiekgroep ontbind omdat Everson se passie en energie wegbeweeg het van gemeenskapsprojekte en na elektroniese musiek verskuif vir ’n doktorsgraad, wat Anton Webern se musiek ontleed, het sy weduwee later gesê.
Hy het sy doktorsgraad in 1974 van die Universiteit van Kaapstad ontvang.
Everson is ’n belangrike deel van Worcester se musieklewe en het nog twee dekades so gebly voordat hy in 1976 die hoof van die Skool vir Opvoerende Kunste by die Natal Technikon in Durban geword het.
Sy invloed op Suid-Afrikaanse musiek is in ’n moderne tydperk meestal vergete, maar ten spyte hiervan het hy in 2007 steeds ’n ATKV-veertjie vir “Klutaimnestra” ontvang – 16 jaar ná sy dood in Durban.
Sy werk bestaan uit vyf sonatas, ’n trio, vier liedjie-siklusse, ’n klavierstuk en verskeie komposisies vir klavier en kitaar sowel as twee onvoltooide stukke.. Bronne: Die Burger, Cape Argus en Worcester Standard kom uit Burkham se akademiese studie.




