Covid-19-verligtingstoelaes nou te kry by elke Shoprite, Checkers en Usave.


Mense kan nou die Covid-verligtings­toelaag van R350 by enige winkel in die Shoprite-groep onttrek.

Dié groep sê die meer as 10 miljoen werklose Suid-Afrikaners wat voordeel trek uit die R350-toelaag sal nou groter toeganklikheid hê by sy 1 286 supermarkte oor Suid-Afrika heen.

Die toekenning van die toelaag is onlangs vir nog 12 maande verleng. Klante van Shoprite, Checkers, Usave en geselekteerde OK Foods-supermarkte kan hul toelaag by kassiere van dié winkels deur die land trek. Dit stel klante in staat om hul toelae te ontvang, noodsaaklike kruideniersware te koop en hul rekeninge op ’n enkele plek te betaal, sê die groep.

Om hul toelae hier te kry, moet mense hul ID- en selfoonnommer verskaf. Dit moet dieselfde selfoonnom­mer wees waarmee daar op die Sassa-databank geregistreer is aangesien ’n bevestigings-OTP na hierdie nommer gestuur sal word om bedrog te voorkom.

Toelaes is van hierdie maand beskikbaar vir mense wat reeds aanlyn of by die Poskantoor geregistreer het. Registrasie kan nie in die winkel gedoen word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article