Die kinders van Children of Hope op ’n uitstappie in die Kaap.

Credit: SYSTEM

In 2020, tydens die globale Covid-19- pandemie, het die Geduld-gesin van Avianpark aan die mense in hul buurt kos begin uitdeel.

Kerlina Geduld, die gesin se matriarg, wou nog altyd meer betrokke raak by haar gemeenskap, maar weens haar voltydse werk kon sy nie.

Sy werk nie tans nie. Sy het ’n ligte beroerte gehad en haar dokter het haar aangeraai om liefs nie te werk nie.

“Tydens die pandemie het ek die ideale geleentheid gehad om in die gemeenskap te werk. Ons het toe as gesin ’n sopkombuis begin,” vertel Geduld.

Ná ’n ruk het die projek, Children of Hope, uitgebrei.

Haar dogters, Miriam en Nicole, het later die kinders in die buurt met hul huiswerk en met leeswerk begin help. Hulle het ook die kinders geleer om as ’n koor saam te sing. Later het nog iemand van ’n ander gemeenskap in Worcester betrokke geraak.

“Ek het eendag ’n video op ’n Facebook-groep gedeel wat wys wat ek en my familie doen. ’n Vrou, Lavinia, het my daarna gekontak en gesê sy wil graag betrokke raak. Van daar af kon ons die kinders op uitstappies buite die dorp begin neem. Sy het ook gereeld praatjies vir die kinders kom lewer en baie borge aan boord gebring.”

Hulle was al op uitstappies na die see toe, asook na museums en die Kaapse Waterfront.

“Baie die kinders was op daardie oomblik nog nie eens deur die tonnel nie en net om hul gesiggies te ervaar terwyl hulle dit beleef, is baie spesiaal.”

Hoewel die gesin nie meer kos uitdeel nie, fokus hulle steeds daarop om die kinders te help. Maar Kerlina het steeds ’n groter droom in haar hart.

“My wens is dat ek eendag ’n plek kan kry waarheen die kinders ná skool kan gaan en waar ek vir hulle elkeen ’n warm bord kos kan voorsit. ’n Plek waar hulle ná skool kan gaan, waar hulle hulp met hul skoolwerk ook kan kry. ’n Plek van veiligheid. Baie van hierdie kinders kom uit gebroke huise uit en ek wil graag ná skool dit vir hulle kan doen, eendag. Maar in die nabye toekoms wil ek weer die sopkombuis begin.”

  • Kontak Geduld by 074 498 5366 met navrae of om by die projek betrokke te raak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article