Die derde ronde van die Breedevallei-gemeenskapskrieketvereniging het verlede Sondag geen verrassings opgelewer nie, behalwe Black Leopards wat die Quickies op Edengarden geklop het.
Quickies het die loot gewen en besluit om eerste te kolf, maar kon net 94 lopies van sy toegelate 20 boulbeurte aanteken.
Vir Black Leopards het Edward Flando in die span se jaagtog uitgeblink, met Gregory Page wat die kastaiings verder uit die vuur gekrap het en strykdeur ’n kolfprobleem vir Quickies was met sy onoorwonne 46 lopies wat aan Black Leopards ’n broodnodige oorwinning verseker het.
Met dié oorwinning het Leopards verseker hy bly in die wedloop om eerste in groep A te eindig en sodoende in die eindstryd te speel.
Sy grootste uitdaging is egter Clovers, wat met sy oorwinning oor Zazon seker gemaak het dat hy ook in die geveg vir die eerste plek bly. Zazon, wat voor die wedstryd onoorwonne was, is takties deur ’n vasberade Cloverspan uitoorlê – waarop Zazon geen antwoorde gehad het nie. ’n Maklike oorwinning is toe uiteindelik behaal.
In nog ’n groep A-wedstryd het Pumas gesukkel om ’n begeesterde Hartwig Lions op Greenvalley baas te raak.
Pumas, wat slegs 31 lopies vir ’n oorwinning moes aanteken, kon dit eers in die dertiende boulbeurt – met ses paaltjies plat – behaal nadat die Lions hardnekkig teruggeveg het.
Groep B het oorwinnings vir Giants teen Rising Stars opgelewer, terwyl Very Dangerous verspot maklik met Pro Eagles op Nuweland afgereken het.
Sondag speel Lions in groep A teen Clovers op Greenvalley, terwyl Pumas op Ryderpark teen Zazon speel.
View Pro sal op View Pro-park teen Quickies te staan kom.
Young Titans speel in groep B teen Young Stars op Edengarden.
Rising Stars speel teen Very Dangerous op Rising Park en Pro Eagles sal op Eaglepark met View Giants kragte meet.
Vlakkiekrieket-geesdriftiges kan hul spanne van 13:30 af op die verskillende velde gaan ondersteun.





