Pieter-Jan Groenenberg, ’n 15-jarige seun en leerder aan die Hoërskool Charlie Hofmeyr, is verlede Dinsdagoggend (19 April) ná ’n ineenstorting en ’n moontlike hartaanval skielik oorlede.
Netwerk24 berig dat dié hoërskoolseun, wat afkomstig is van Tulbagh, skoliose gehad het en in die Ceres-hospitaal oorlede is nadat ’n dokter voorgestel het dat hy opgeneem word vir observasie.
Volgens Johan Groenenberg (61), Pieter-Jan se pa, het sy seun seergekry toe hy en ’n ander seun gespeel het.
Die seun se ouers, sowel as medici, is nie seker hoe Pieter-Jan in die spelery seergekry het nie, maar vermoed dit was weens sy mediese toestand.
Dit is ook weens hierdie siekte dat Pieter-Jan weggehou is van kontaksport.
Sy pa het verduidelik dat sy seun eers op die Vrydag meer oor die voorval aan sy ouers vertel het omdat hy ’n spraakprobleem gehad het en gevolglik skaam was.
Volgens sy pa het hy gesê dat hy en een ander seun voor ’n saalbyeenkoms gespeel het.
Johan het verduidelik dat hulle nie geweet het of hy geval het, of per ongeluk gestamp is nie, maar later daardie dag (12 April) het hy sy seun by die skool gaan haal.
Vir die res van die week het Pieter-Jan aangesterk by die huis waar hy gereeld gelê het, maar teen Saterdagaand (15 April) was hy kort van asem en het ’n geswelde maag gehad en sy ouers het hom na ’n dokter geneem.
Ná die doktersafspraak is hy in die hospitaal opgeneem, waar X-strale gedoen is.
Dit het gewys dat hy longontsteking in sy linkerlong het, maar niemand was bekommerd nie.
Dinsdagoggend omstreeks 04:00 het die Groenenberg-gesin ’n oproep ontvang van die hospitaal wat hulle meegedeel het dat hul seun ’n ineenstorting en moontlik ook ’n hartaanval gehad het.
Volgens Pieter-Jan se pa het sy seun ’n natuurlike aanvoeling vir diere gehad, en was hy ’n talentvolle leerder met ’n passie vir rekenaars.
Bronagh Hammond, woordvoerder by die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), het aan Standard bevestig dat Pieter-Jan flou geword het tydens verlede Woensdag se saalbyeenkoms, ná die spelery.
Volgens haar e-pos aan die koerant stem die WKOD nie saam met Johan Groenenberg se verduideliking nie.
“Daar is verskeie bewerings gemaak oor die leerder wat homself seergemaak het in ’n voorval voor die saal, of op ’n ander dag.
“Albei bewerings is volgens die skool vals,” sê Hammond.
Die WKOD, saam met die Hoërskool Charlie Hofmeyr, het Pieter-Jan se vriende en familie sterkte toegewens.
Standard het sonder sukses by die Groenenberg-gesin navraag gedoen. – Jana Scheepers





