’n Man is oorlede nadat hy en sy kollega Maandag glo by die werk deur giftige gasse oorval is.
Die voorval het Maandag in een van Ceres Fruit Processors (CFP) se fasiliteite gebeur.
Volgens ’n berig in Die Burger van Dinsdag (17 Januarie 2023) is die kollega in ’n ernstige toestand in die hospitaal opgeneem.
CPF het ook ’n verklaring oor die voorval vrygestel.
“Dit is met groot hartseer dat Ceres Fruit Processors (Edms) Bpk die heengaan aankondig van Dirk Jacobus Hagen wat op 16 Januarie 2023 in ’n tragiese ongeluk op ons perseel in Ceres betrokke was. Ons wil graag ons innige meegevoel oordra aan sy vrou en kinders, sy vriende en kollegas,” lui die verklaring.
Volgens Ceres-polisie se stasiebevelvoerder, kolonel May Louise Dyers, is hulle besig met ’n geregtelike doodsondersoek.
CPF se verder in sy verklaring: “Ceres Fruit Processors (Edms) Bpk sal ten volle met owerhede saamwerk in hul ondersoek. ’n Interne ondersoek is tans aan die gang.”
Verder berig Die Burger die vrou van die oorlewende het bevestig dat dit goed gaan met hom en dat hy vermoedelik vandeesweek nog ontslaan sal word.
Standard het probeer navraag doen by CFP se besturende direkteur, Anton Reinecke, vir meer inligting oor hul interne ondersoek, asook om vas te stel of beurtkrag moontlik die oorsaak van die voorval sou kon wees. Die lyn het egter doodgegaan nog voor Standard met Reinecke kon praat.




